
Op Dinsdag, 7 April het 21 baie opgewonde Graad 4 en 5 leerlinge op hulle jaarlikse toer vertrek: bestemming Drakensville!
Mnr Abrahamse van die Departement van Waterwese het vir hulle meer van die waterskemas in die Drakensberge vertel en gewys, en die oop sluise van die Driel-Dam naby Bergville was ‘n belewenis vir ieder en elk.
Die kinders was in twee spanne verdeel, ‘Cathedral Peak’ en ‘Champagne Castle’. Dit was baie opwindend om die werklike pieke elke dag te sien, alhoewel sommige Graad 4s en 5s se tonge behoorlik geknoop het wanneer hulle die name moes uitspreek!
Die leerlinge en personeel het deur die week gestap en gestap en gestap – ja , hulle was mos in die berge om te stap! Die Drakensberg Seunskoor was ‘n belewenis, die abseil vir sommige maklik en vir ander ‘n uitdaging wat oorkom moes word, die draadgly (‘foefieslide’) oor die dam ‘n fees, en selfs die skoolhoof het al die aktiwiteite meegedoen!
Die roofvoëls by Falcon Ridge was skouspelagtig, die uitsig op die Amfiteater asemrowend en elke kind het baie meer oor die water, inheemse woude en grassoorte geleer.
Die kinders het hulle oopmond aan die waterpomp-skema by TUVA/ Eskom vergaap, en baie interessante en leergierige vrae gevra – om te dink dat elektrisiteit deur water opgewek kan word!



