MEVROU Hermien Claassen asook mev Carin Lombaard sluit vanaf die tweede kwartaal aan by LMS se onderwyskorps.

Mev Claassen is ‘n puik kuns- en kultuuronderwyseres vanaf Mpumalanga, met jare se ondervinding, terwyl mev Lombaard op musiekgebied geen bekendstelling nodig het nie. Baie sterkte met u taak wat u aanpak! LMS se personeel en beheerliggaam is opgewonde oor die positiewe groei wat u by LMS in die kunste gaan bewerkstellig.
LMS Rugbyweek 2015: Nog ‘n eerste vir LMS! Ons hou ons eie rugbyweek. Ons skop die week af met vyf skole wat met hulle o/11 en o/13 spanne aan die week deelgeneem het van 1 – 4 April. Deelnemende skole was Eggerton(Ladysmith); Paulpietersburg PS; NRS; Gelofte(Pinetown) en LMS. Daar was puik hardlooprugby gespeel en daar was goeie sportmanskap gekweek op en van die veld af. Die wedstrydoefening sal later in die seisoen vrugte dra vir al hierdie spanne wat mooi ontwikkel het.
Die besoekende skole het in ons koshuis tuisgegaan en al die wedstryde is op ons sportveld gespeel. Die kiosk was ook omskep in ‘n wegneemete bedryf deur ons ouers onder leiding van Tanya van Nieuwenhuizen. Daar was elke dag honderde spoedniks en ander etes verkoop aan al die ondersteuners en spelers. Baie dankie aan al die ouers, matrones en personeel wat hier hulp verleen het.
Ons het baie komplimente gekry vir ons pragtige fasiliteite en mooi sportveld. Dankie aan die LMS werkers onder leiding van Marlise, wat gesorg het vir die mooi voorbereiding. Dankie ook aan Andries Knoetze vir die kunsmis wat hy voorsien het om die veld weer nuwe lewe te gee en aan die koshuisseuns wat die watersproeiers vir ons geskuif het. Daar was baie beplanning gedoen deur die manspersoneel en afrigters onder leiding van mnr Smith en ons wil hulle gelukwens met hierdie inisiatief en suksesvolle rugbyweek.
Die volgende persone en besighede word ook bedank vir hulle bydra tot die sukses van die week: Inyanga Motors; Jaco van Nieuwenhuizen; Andries Knoetze en Vaaitjie Steenkamp. Ander besighede het weer bygedra tot die spelers se netjiese toerdrag: Vryheid Groothandel Vleismark; Discount Finance; Knoetze Boerdery; Powertrain; Erhenada; Inyanga Motors and Build It.
Graad 4 Uitstappie: Die graad 4 leerders van LMS het Dinsdag, 31 Maart, ‘n muntlegging gehad wat gevolg is deur n opvoedkundige uitstappie na die Lucas Meyer Museum, Carnegie Biblioteek en Nieuwe Republiek museum. Hier het hulle onder leiding van graad 4 personeel, mev Van der Nest, mev Landman en mej Kok, die belangrikheid ontdek van die bewaring van museums om sodoende ‘n dorp se geskiedenis lewendig te hou. Dit was baie interessant en het spontane betrokkenheid van elke leerder aangemoedig. Die oggend is afgesluit met roomyshorinkies. Baie dankie aan die personeel by die Inligtingsburo en Lucas Meijer Museum wat die leerders vriendelik ontvang en gelei het.



