DIE leerders het op Vrydag, 28 Augustus aan verskillende afdelings in die Newcastle Eisteddfod deelgeneem.
Individuele voordrag graad 8-9: Waldo van der Westhuizen ontvang eervolle vermelding vir sy uitmuntende voordrag van SJ Fourie se gedig ‘Rilrestaurant.’ Hy ontvang trippelgoud (96%) en is aangewys as die wenner in hierdie afdeling. Die beoordelaars was vreeslik beindruk met Waldo.
Bybelvoordrag: Waldo van der Westhuizen ontvang eervolle vermelding (94%) vir sy voordrag van Dawid se Psalm 8. Waldo se interpretasie het groot lof aan ons Skepper gebring. Hy was ook die wenner in hierdie afdeling.
Samespraak: Christy-Joe Olivier en Carmen Gröpp ontvang dubbelgoud (95%) vir hul toneelstuk ‘Die verkeerde wondermiddel.’ Dit handel oor ‘n vrou wat weer so slank wil wees soos sy op haar wittebrood was, met ‘n snaakse draai van gebeure. Hulle word aangewys as wenners in hierdie afdeling.
Onvoorbereide, gedramatiseerde lees: Al vier Pionier se leerders neem deel: Waldo van der Westhuizen (goud-94%); Carmen Gröpp (goud-88%); Christy-Joe Olivier (goud-89%) en Jana Grobbelaar ontvang eervolle vermelding vir haar voorlesing uit Dalene Matthee se ‘Kringe in ‘n bos.’ Sy ontvang dubbelgoud (93%) en is die wenner in hierdie afdeling.
Monoloog: Jana Grobbelaar ontvang eervolle vermelding en dubbelgoud (91%) vir haar vertolking van ‘n meisie wat veronderstel is om ‘n sielkundige te gaan sien, maar by die veearts opeindig.
Koshuisweek sluit op ‘n hoë noot af: Die koshuisdinee het plaasgevind op Maandag, 24 Augustus. Dit was ‘n stylvolle aand gevul met goeie musiek en heerlike kos. Melkweg is aangewys as algehele wenners van die koshuisweek en as die meisieswenners van die serenade. De Voshuis is aangewys as die seunswenners van die serenade. Stellaland en Republiek wen die gangbeoordeling. Baie dankie aan juffrou Gerber en meneer Erasmus vir al julle moeite.
Nashua 7s en Fast 5 toernooi ‘n reusesukses: Fast 5: Al drie Pionier se spanne het uitstekend gevaar. Pionier Penguins (o/15’s) wen die Plaatafdeling en eindig algeheel 4de. Pionier Pumas (o/16 en o/17 gemeng) eindig 2de in die Trofeeafdeling. Power Pionier (huidige 1ste span) eindig 1ste in die Trofeeafdeling en is die wenners van die toernooi. Baie geluk julle!
7s: Die eerstespan wen 5 wedstryde, maar verloor ongelukkig in die finaal teen Durban High School, 17-10. Die tweedespan wen 3 wedstryde en speel in die Plaatfinaal teen Hoërskool Vryheid en verloor 12-7. Baie dankie aan Nashua wat die hoofborg van die toernooi was. Dit lyk of die toernooi ‘n jaarlikse instelling by Pionier gaan word.
ATKV Redenaars: Die ATKV redenaarskompetisie se finale rondte het by Goudini Spa, ‘n ATKV oord, plaasgevind op 20-21 Augustus. Zamo Mathebula neem aan die Graad 10-12 Addisionele Taal Voorbereide Mondeling afdeling deel. Zamo eindig 8ste in haar afdeling. Baie geluk, Zamo!



