SO LUI die deuntjie van die graad 8’s se liedjie wat hulle spesiaal vir die gehoor gesing het aan die einde van die groentjiekonsert wat op Donderdag, 21 Januarie plaasgevind het.
Hulle is so opgewonde om ware Pioniers te wees en is beslis ‘n stappie nader daaraan na hulle puik vertoning. Pionier se “baba – Perry’s” het nie lyf weggesteek by hierdie jaar se groentjiekonsert nie. Die graad 8’s het alles van ‘n Checkers advertensie waarin Pionier se eie Nataniël die ster was, tot Pionier se eie Radio Raps met klein Jonathan van die Oosrand, wat die Pionier dans in sy eie terme verduidelik het, uitgebeeld. Dit was skreeusnaaks en nie net het dit gesorg vir die vermaak van die hele gehoor nie, almal het tydens die vertoning weer besef dat daar nie ‘n beter land as Suid Afrika is nie. Daar is beslis ‘n paar mammas en pappas wat die trane moes afvee, omdat hulle bloedjies nou mooi groot is.
Hengel: Ryno Botha skrik nie vir die droogte nie en het tydens die vakansie die varswaters aangedurf waar hy Natal verteenwoordig het by die SA Junior Hengelproewe. Baie geluk, Ryno.
Vlerksleep – atletiek: Donderdagoggend, 21 Januarie het die ses atletieklaers vergader op die pawiljoen. Beyers, Delarey en Dewet (die seunslaers) moes aan verskeie aktiwiteite deelneem om te bewys dat hulle waardig genoeg is om óf Minjonet, óf Disa óf Ixia se harte te wen. Dit is die jaarlikse trou aksie wat tussen die laers plaasvind. Die laers wat met mekaar “in die huwelik getree” het, smelt saam en gaan Maandag, 25 Januarie by die Interhuis atletiek saam met mekaar kompeteer om onder andere die sangbeker te wen of om as die algehele wenners van die dag gekroon te word. Laat die atletiek begin.



