
Op Saterdag, 22 Februarie, het drie netbalspanne aan die Spur-toernooi te Ferrum gaan deelneem.
Dit het baie goed gegaan: al drie die spanne meet kragte teen Ferrum in die finale.
Die onder-15’s wat in die o-16-afdeling speel, verloor 3-7 en die o-14’s verloor 4-8; albei dié spanne het dus silwermedaljes ingepalm.
“Ons is veral trots op ons eerstespan wat 11-7 wen en as kampioene van die toernooi gekroon word. Welgedaan julle!”
Gholf:
Marlie en Anika Smit, Pionier se befaamde gholfsusters, het vanaf 16 tot 21 Februarie aan die SA-amateur kampioenskappe by die Royal Johannesburg en Kensington Gholfklub gaan deelneem.
Marlie het tydens die ‘stroke play’ 15de geëindig en Anika 34ste.
Albei die sussies het hulle vorige prestasies verbeter en vertel dat hulle baie waardevolle ondervinding opgedoen het.
Chelmsford Challenge oopwater swem en driekamp:
Op Sondag, 23 Februarie, neem 18 leerders en drie personeellede aan die Chelmsford Challenge (oopwater swem: 1 000-meter en 500m) deel. Alhoewel die ongure weerstoestande die swem bemoeilik het, het die Pioniers hulself baie goed van hul taak gekwyt. Bianca Meintjies, Arno Stokes en Ronaldo van Ellinckhuizen neem ook vir die eerste keer in die individuele driekamp-afdeling deel en voltooi die 500m swem, 5km bergfiets en 3km draf in goeie tye.
Baie geluk aan die volgende swemmers wat onder die eerste drie plekke in hul onderskeie afdelings geplaas is:
Phillip Louw (derde in 1 000m swem seuns o-11 tot o-15), Marjean van Zyl (tweede in 1 000m swem dogters o-16 tot o-20), mej Anneke Gerber (tweede in 1 000m swem dames o-20 tot o-40), Pierre Grobler (tweede in 1 000m swem seuns o-11 tot o-15) en Dirk Grobler (eerste in 1 000m swem seuns o-16 tot o-20 asook derde algeheel in alle ouderdomsgroepe in 1 000m swem).
Baie geluk aan al die swemmers vir jul entoesiastiese deelname en dankie aan die ander Pionier-leerders en ouers wat as toeskouers hul maats kom ondersteun het!
Dit wys net weer dat Pioniers nie skrik vir koue weer of water nie!
PUK-16:
Die PUK-16 se eerste poelwedstryde skop op Saterdag, 28 Februarie, in volle glorie teen Hoërskool Piet Retief af.
Graag wil ons al ons sportspanne baie sterkte toewens vir die reeks. Die spanne is almal al hard besig met voorbereiding en oefen dat die sweet loop.
“Ons glo en vertrou dat dit klopdisselboom sal gaan.”
ALSO READ: Tweelinge in dosyne by Pionier Hoër
Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates






