Newcastle AdvertiserNewsSport

Reën weerhou nie Newcastle Jukskei-sterre van glansprestasie

Ester de Villiers (Newcastle) en Anne-Marie Kapp (Suidkus) het die goue medalje ingepalm in die Nasionale Vroue Bo 50 Dubbelspel wat op die Saterdag gespeel is. Lees meer hier:

Die SA Senior Jukskei Kampioenskap is onlangs onder uitdagende weersomstandighede in Kroonstad by Jukskeipark aangebied.

Ten spyte van swaar reën wat van Maandag tot Vrydag grootliks spel belemmer het, het spelers van die Newcastle Jukskeiklub en die breër KwaZulu-Natal-span besonder goed presteer.

Hoewel geen medaljes deur die KZN-spanne gewen is nie – meestal as gevolg van die beperkte aantal wedstryde wat gespeel kon word – was die punteverskille tussen die top-spanne uiters klein.

Dit getuig van hoe mededingend die toernooi was, selfs onder moeilike toestande.

Een uitsonderlike prestasie het egter uitgeblink: Ester de Villiers (Newcastle) en Anne-Marie Kapp (Suidkus) het die goue medalje ingepalm in die Nasionale Vroue Bo 50 Dubbelspel wat op die Saterdag gespeel is.

In skerp kontras met die res van die week, het die son op dié dag geskyn, en die nege wedstryde wat hulle moes afhandel was fisiek veeleisend – ‘n ware toets van stamina en uithouvermoë.

Die amptelike opening het op Sondag plaasgevind met merietetoekennings aan uitblinkers in die sport.

Albert Stoop (Kingsley) is vereer as die Beste Senior Manspeler van die Jaar, en Dons Vorster is as Beste Direkteur van Administrasie aangewys – ‘n welverdiende toekenning vir sy toewyding aan die KZN Jukskei Federasie.

Maandag en Dinsdag is grootliks deur reën verongeluk, met slegs enkele wedstryde wat plaasgevind het.

Teen dié tyd was al 71 bane sopnat en skeidsregters moes voortdurend toesien dat die speeloppervlak steeds veilig is, veral die staanplekke.

Op Woensdag het die weer darem opgeklaar en kon die Provinsiale Groepwedstryde voltooi word.

KwaZulu-Natal se spanne is ingedeel saam met Limpopo en Mpumalanga, en het hul staal gewys.

Spelers van Newcastle en omliggende gebiede het onder leiding van Pieter van Reenen, hieraan deelgeneem.

Spelers van KZN wat deelgeneem het, sluit in:

  • Senior Mans: Albert Stoop, Shaun McAlister, Hennie Claasen, Walter Stoop
  • Mans Bo 60: Joseph de Klerk, Antoon Claasen, Dons Vorster, Kobus Uys
  • Junior Vroue: Florinda Taylor
  • Vroue Bo 50: Anne-Marie Kapp, Anne-Marie Stevens
  • Vroue Bo 60: Ester de Villiers, Daleen Roos

Na afloop van die groepwedstryde is die nasionale spanne aangekondig wat Donderdag teen Namibië sou speel in internasionale toetswedstryde.

Newcastle se trots was duidelik in die volgende benoemings:

  • Florinda Taylor (Vryheid): Nasionale Junior Vrouespan
  • Albert Stoop (Kingsley): Nasionale Senior Manspan
  • Ester de Villiers (Newcastle): Nasionale Vroue Bo 60 Span
  • Daleen Roos (Newcastle): Spanbestuurder van die Nasionale Bo 50 en 60 Mans- en Vrouespanne +

Alhoewel Donderdag se toetswedstryde plaasgevind het, het die reën Vrydag teruggekeer en verdere spel onmoontlik gemaak.

Die kampioenskap is as afgehandel verklaar, met veiligheid van spelers as prioriteit.

Alhoewel die hoop op medaljes vir KZN-spanne deur die weer gekelder is, is daar steeds rede tot trots.

Die uitsonderlike prestasies van spelers soos Ester de Villiers en Daleen Roos, wat Nasionale kleure verwerf het, getuig van die gehalte van spelers wat uit Newcastle spruit.

 



The news provided to you in this link has been investigated and compiled by the editorial staff of the Newcastle Advertiser, a sold newspaper distributed in the Newcastle area. 

Please follow us on Youtube and feel free to like, comment, and subscribe.

For more local news, visit our webpage, follow us on Facebook and Twitter, and request an add on our WhatsApp (082 874 5550).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button