‘Ons Winkel’ Vryheid vra gemeenskap om hande te vat
'Ons Winkel' Vryheid doen ’n beroep op inwoners om saam ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Met ’n opregte hart doen Zelda Fourie namens ‘Ons Winkel‘ Vryheid ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en te help om ’n verskil in mense se lewens te maak.
‘Ons Winkel’ se doel is veel groter as net die verkoop van tweedehandse goedere. Die opbrengste word gebruik om verskeie gemeenskapsprojekte te ondersteun en mense wat dit nodig het, ’n helpende hand te bied.
Ondersteuning vir kinders
Een van die organisasies waarmee hande gevat word, is Helpende Hand. Jaarliks word skooltassies aan skoolbeginners uitgedeel wat andersins nie noodwendig die nodige toerusting vir hul eerste skooljaar sou hê nie.
‘Ons Winkel’ ondersteun ook verskeie ‘Ons Plekke’, wat kleuterskole in verskillende dorpe insluit, asook naskoolsentrums waar kinders daagliks ’n bord kos ontvang. Vir sommige van hierdie kinders is dit ’n maaltyd wat hulle andersins nie sou kry nie.
Die opbrengste van ‘Ons Winkel’ help verder om maatskaplike werkers te finansier wat na behoeftes binne verskillende gemeenskappe omsien. Daar is ook verskeie ander gemeenskapsprojekte, terwyl studente jaarliks ondersteuning ontvang om hul studies voort te sit en ’n beter toekoms vir hulself te bou.
‘Ons Winkel’ is ook betrokke by Akademia Universiteit, met die doel om verdere geleenthede vir mense te help skep.
Gemeenskap se hulp bly noodsaaklik
Volgens Fourie kan hierdie werk egter net voortgaan met die ondersteuning van die gemeenskap.
“Ons kan slegs die verskil maak deur julle wat met ons hande vat,” sê sy.
Sy doen daarom ’n beroep op inwoners om enige bruikbare items wat nie meer benodig word nie, aan ‘Ons Winkel’ te skenk. Dit kan onder meer klere, breekware, elektriese ware, gordyne of enigiets anders wees wat ’n nuwe doel kan kry.
‘Ons Winkel’ Vryheid bied ook aan om skenkings op te laai.
’n Dankie aan Vryheid
Fourie het haar dank uitgespreek teenoor elke persoon wat reeds skenkings maak, maar ook teenoor diegene wat ‘Ons Winkel’ ondersteun deur daar aankope te doen.
“Dit is ’n voorreg om deel te wees van ons gemeenskap Vryheid. Sonder julle is dit nie moontlik nie,” sê sy.
Inwoners wat wil skenk of ’n bydrae tot die projek wil maak, kan Zelda Fourie by 082 859 3944 kontak.
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



