AfriForum bemagtig Vryheid-vroue met vuurwapenvaardighede op Vrouedag
AfriForum bied vuurwapenopleiding aan vroue in Vryheid om selfvertroue en veiligheid te bevorder.
Vrouedag het vanjaar ‘n praktiese draai geneem in Vryheid toe AfriForum se plaaslike tak ‘n vuurwapenvaardighede-dag vir vroue aangebied het. Die doel was om deelnemers nie net met vaardighede nie, maar ook met selfvertroue toe te rus.
Die vaardigheidsessie het plaasgevind op ‘n veilige terrein net buite die dorp en is deur sowat 30 vroue bygewoon. Onder leiding van gekwalifiseerde instrukteurs is deelnemers deur die basiese beginsels van vuurwapenveiligheid en skiettegniek geneem. Elke vrou het ook die geleentheid gekry om prakties te oefen onder toesig.
Verskeie deelnemers het genoem dat hulle nou rustiger voel oor die idee van selfverdediging, en sommiges het selfs planne gemaak om meer gevorderde kursusse aan te pak.
Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, het die vraag na hierdie doelgerigte opleiding die afgelope tyd sterk toegeneem.
“Dit was ’n ongelooflike insiggewende oggend om ons vroue toe te rus met die nodige vaardighede vir wanneer jy alleen is en jouself moet verdedig. Dankie, AfriForum, dit was ’n wonderlike ervaring,” het Carin Lombard, ’n inwoner van Vryheid, gesê.
Van Aswegen sê daar is reeds planne om die vuurwapenopleiding meer gereeld aan te bied. “Die gewildheid van die kursus het só toegeneem dat ons dit in die toekoms een keer per kwartaal vir mans en vroue wil aanbied. AfriForum ondersteun graag gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem vir die veiligheid van hul gesinne en die breër gemeenskap,” het hy gesê.
ALSO READ: AfriForum lays criminal charges against municipal managers
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



