Namibiese sangeres Jezelle sing vir liefdadigheid in Vryheid
Jezelle deel haar kankerreis en bring hoop tydens ’n spesiale fondsinsameling in Vryheid.
Jezelle, die geliefde sangeres wat oorspronklik van Namibië kom, het Saterdagaand by Hoërskool Pionier opgetree. Sy, bekend vir haar energieke optredes en vrolike geaardheid, het die besoekers saam laat sing met van haar trefferliedjies – van pop tot country en meer.
Die sangeres was ’n spesiale gas by die geleentheid wat deur Zelda Fourie georganiseer is om ’n finansiële hupstoot te gee aan Rheinhardt Engelbrecht se familie. Rheinhardt is ’n rukkie gelede met kanker gediagnoseer en dit gaan tans nie goed met hom nie. Hul nege maande oue baba is hier in Vryheid by sy skoonouers, terwyl hy in ’n Pretoria-hospitaal behandel word.
Jezelle is nie net ’n sangeres en liedjieskrywer nie, maar iemand wat haar storie met opregte empatie kan vertel. Na byna ‘n jaar en ‘n half lange kankerstryd kan sy vandag met trots sê dat sy in remissie is.
Sy is in Maart 2023 met limfklierkanker gediagnoseer en moes daarna chemoterapie ondergaan. “Dit was ’n lang pad,” vertel sy aan Vryheid Herald, “maar my hart klop vandag sterk met dankbaarheid vir almal wat my bygestaan het in hierdie moeilike jaar van verandering.”
“Ek het ’n nuwe en groter waardering vir my gehore gekry. Ek het nie hierdie pad alleen gestap nie, mense het dit saam met my gestap,” sê sy.
“My prentjie het verander. As ek net een persoon se hart kan aanraak terwyl ek op die verhoog is, gryp ek die geleentheid met albei hande aan.”
Jezelle vertel verder dat sy jare lank gesukkel het om musiek te skryf. “Een dag het ek gebid en die Here gevra om my te help as musiek regtig my pad is. Binne tien dae het ek my eerste enkelsnit, Vir ons mense, geskryf, en kort daarna Suidwes, waarvoor mense steeds vra.”
Volgens haar is daar nie so iets soos oornagsukses nie, veral nie in die vermaakbedryf nie.
“Kanker is iets wat jy hoop nooit met jou gaan gebeur nie. Jy dink ook nie dit sal op jou pad kom nie – dit gebeur altyd met ander mense, nie met jou nie,” sê sy eerlik.
Hoewel sy die afgelope paar jaar saam met haar man, Johan, en hul dogtertjie in Pretoria woon, verlang sy dikwels terug na haar geboorteland.
“Ek is baie lief vir daardie land en sy mense. Ek skryf die meeste van my musiek wanneer ek daar is, wanneer ek met my tone in die Namib-sand loop. Onder elke klip en agter elke boom lê ’n storie om te vertel.”
Elke lied het sy eie storie. Een van die ligter oomblikke in haar optrede was toe sy ’n komiese liefdeslied sing, ’n denkbeeldige driehoek tussen Trompie, Heidi en Pinocchio, met Heksie wat die opwinding verhoog.
Vryheid Herald het ook met Rheinhardt se skoonouers gesels. Hulle sê, “Niks in die lewe gebeur sommer nie, want God het ’n doel met alles, selfs al sien ons dit nie altyd nie.”
Hul herinner die gemeenskap van Vryheid, “Al sê jy net ‘Ek dink aan jou’ of ‘Ek bid vir jou’ of ‘Ek gee om vir jou’ of ‘Ek is hier om te luister as jy met iemand wil praat’ – dit help.”
ALSO READ: Moon walk for charity in October
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



