Suid-KZN wen Leon Lombard-toernooi oortuigend
Suid-KZN lig die trofee ná strawwe wedstryde by Arborpark.
Die jaarlikse Leon Lombard-toernooi is by Arborpark-sportgronde aangebied en het spelers van Noord-KZN en Suid-KZN vir ’n mededingende en gesellige dag van jukskei byeengebring.
Spelers het hul opregte waardering uitgespreek teenoor MMG Motors wat die spaninskrywings vir al die deelnemers betaal het.
Beide Noord- en Suid-KZN het vier spanne ingeskryf en twee wedstryde teen mekaar gespeel. Daarna is al die spelers herverdeel om in ’n krag-teen-krag-kompetisie deel te neem.
Ten spyte van die bloedige hitte het daar ’n aangename en vriendelike atmosfeer op die bane geheers
Spelers is ook vereer met ’n besoek van Leon Lombard en sy gade, Suria, na wie die toernooi vernoem is. Verskeie oud-spelers het die geleentheid bygewoon om hul ou jukskeivriende weer te ontmoet.
Vanjaar het Suid-KZN die toernooi gewen met 67.5 punte teenoor Noord-KZN se 52.5 punte.
Baie geluk aan Suid-KZN met hul oorwinning, en welgedaan aan Noord-KZN vir hul sportmanskap en bydrae tot ’n geslaagde dag.
Na afloop van die toernooi is ’n erkenningsfunksie gehou waartydens uitblinkers van die afgelope jaar vereer is.
Die onderskeie KZN-spanne wat die provinsie tydens die Suid-Afrikaanse Senior Kampioenskappe sal verteenwoordig, is ook aangekondig.
Winnie Welthagen is met ’n spesiale toekenning vereer vir haar jare lange deelname en ondersteuning, nie net aan die voormalige Noord-Natal Jukskei-unie nie, maar ook in die afgelope paar jaar aan die KZN Jukskei Federasie.
Die toekenning is deur Antoon Claasen, president van die KZN Jukskei Federasie, aan haar oorhandig.
Die spanne is soos volg aangekondig:
- Vroue A1 (Uniewinkels-trofee): Brenda Wolmarans (Suid-KZN), Ina Scott (Noord-KZN), Annetjie de Klerk (Suid-KZN) en Ester de Villiers (Noord-KZN).
- Vroue A2 (Pikkie Uys-trofee): Drientjie Marais (Noord-KZN), Madeleine Vorster (Noord-KZN), Anna-Marie Stevens (Suid-KZN) en Daleen Roos (Noord-KZN).
- Mans A2 (Sanlam-trofee): Hennie Claasen (Suid-KZN) en Shaun McAlister (Noord-KZN).
- Mans 50+ A1 (Caltex-trofee): Antoon Claasen (Suid-KZN), Dons Vorster (Noord-KKZN), Walter Stoop (Suid-KZN) en Joseph de Klerk (Suid-KZN).
- Mans 50+ A2 (Slanghoek-trofee): Hennie Schoeman (Suid-KZN), Erick Clackers (Suid-KZN), Frikkie Marais (Noord-KZN), Kobus Uys (Suid-KZN) en James Newman (Suid-KZN).
The news provided to you in this link has been investigated and compiled by the editorial staff of the Newcastle Advertiser, a sold newspaper distributed in the Newcastle area. Please follow us on Youtube and feel free to like, comment, and subscribe. For more local news, visit our webpage, follow us on Facebook and Twitter, and follow us on our WhatsApp Channel







