Vroue voltooi AfriForum se eerste protospanopleiding
Veertien vroue van KwaZulu-Natal het AfriForum se eerste vroue-protospanopleiding voltooi. Meta-beskrywing
Veiligheid het ’n nuwe betekenis gekry vir 14 vroue uit KwaZulu-Natal wat verlede week aan AfriForum se eerste protospanopleidingsessie, uitsluitlik vir vroue, deelgeneem het.
Die vierdaagse opleiding, wat van 24 tot 27 September plaasgevind het, is deur vroulike buurtwaglede van Vryheid, Paulpietersburg en Newcastle bygewoon.
Twee van die deelnemers was van Vryheid, Yshrene Pillay en Linda de Jager, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.
Opleiding vir hoëdruk- en noodsituasies
AfriForum se protospanne bestaan uit opgeleide lede van die organisasie se gemeenskapsveiligheidstrukture wat voorberei word om in hoëdruk- en noodsituasies op te tree.
Die opleiding het onder meer praktiese vaardighede soos taktiese vuurwapenhantering, selfverdediging, radiokommunikasie, die beveiliging en benadering van misdaadtonele, voertuig- en geboubenaderings, optrede tydens gewelddadige voorvalle en basiese mediese noodoptrede ingesluit.
Persoonlike veiligheid ’n prioriteit
Vir Pillay, wat op ’n plot woon, is persoonlike en gemeenskapsveiligheid in besonder ‘n prioriteit.
“Die vier dae se taktiese opleiding het my waardevolle praktiese vaardighede geleer in onder meer waaksaamheid, dissipline en verantwoordelikheid, asook om kalm te bly onder druk,” sê sy.
Sy sê sy is dankbaar vir die geleentheid en vir die belegging in die deelnemers se veiligheid en paraatheid.
Kennis en dissipline word versterk
De Jager het die opleiding voltooi met die doel om haar kennis van veilige vuurwapenhantering uit te brei en meer praktiese ervaring van misdaadvoorkoming binne ’n span op te doen.
“Die opleiding het vir my die geleentheid gebied om my kennis en vaardighede uit te brei, maar ook om my persoonlike ontwikkeling en dissipline te versterk,” sê sy.
Vroue se rol in gemeenskapsveiligheid
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, was die opleiding ’n belangrike mylpaal en wys dit ook op die toenemende rol wat vroue in gemeenskapsveiligheid speel.
“Protospanopleiding is veeleisend. Dit plaas deelnemers in situasies waar hulle onder druk moet dink, kommunikeer, besluite moet neem en verantwoordelik moet optree. Hierdie dames het gewys dat hulle hul plek binne hierdie operasionele omgewing kan volstaan,” sê Broodryk.
Hy sê vroue speel reeds ’n belangrike rol in AfriForum se buurt- en plaaswagstrukture en dat toegang tot meer gevorderde opleiding verder uitgebrei moet word.
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.
“Veilige gemeenskappe word gebou deur gewone mense wat bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar en hulself toe te rus om ander te help,” sê Broodryk.
Nuwe vaardighede vir Vryheid
Vir die Vryheid-deelnemers beteken die opleiding dat hulle nou oor verdere kennis en praktiese vaardighede beskik wat, indien nodig, binne hul gemeenskapsveiligheidstrukture aangewend kan word.



