Pioniers presteer weereens op verskeie gebiede
Die leerders het uitstekend presteer
Op 15 Oktober het Hoërskool Pionier die jaarlikse akademiese prysuitdeling aangebied.
Suené Meyburgh (De Wet), oud-Pionier-matrikulant, was die gasspreker. Sy is egter nie ‘n onbekende in ons midde nie, want Pionier is immers ook haar alma mater. Suené is geseënd met ‘n engelstem en het in ‘n revue, geklee in ‘n bottelgroen rok, ‘n duet saam met Wessel van Deventer gesing. Sy matrikuleer in 2003, as ‘n relatief skugter 18-jarige dogter, wat op daardie ouderdom reeds te veel spreekwoordelike grondpad moes ry omdat die lewe nie aldag sy goeie kant vir haar gewys het nie. Emosioneel het sy klippe gekou.
Sy beklemtoon die geweldige uitwerking wat ‘n onderwyser op ‘n kind het. In haar geval, was die stempel genadiglik positief. Toe Suené de Wet, as tienerdogter, se mat onder haar voete uitgepluk is, as gevolg van, onder andere, ‘n hartseer egskeiding van haar ouers in haar graad nege jaar, het juf. Nieuwoudt haar toegelaat om haarself in die klas uit te leef, haar gevra om vir hulle uit die voorgeskrewe werke voor te lees, want sy het besef dat dit haar sou help om tydelik te vergeet en in die proses te oorleef.
In haar geheue is die volgende gegraveer:“Die omgee van die Pionier-personeel was soos ‘n goue draad wat my dwarsdeur my hoërskoolloopbaan aanmekaar gehou het. Sy is, in haar vyf jaar, deur ‘n redelike hoeveelheid trauma, maar danksy personeel wat haar ondersteun het en gehelp het om in haarself te glo, kon sy van haar lewe ‘n sukses maak.
Suené was ook ‘n kranige hokkiespeler. Dit was vir haar die lekkerste van skool. Die laaaaang busritte, vroeg soggens, Nelspruit toe, om teen die beste te kon kompeteer het sy baie geniet. Sy besing hierdie eskursies met die woord: “fenominaal”.
Op kultuurgebied het sy haarself uitgeleef. Sy speel die hoofrol in meer as een blyspel, maar het veral uitgestaan in haar woudgroen fluweel tabberd in “My Fair Lady”, met die kollig letterlik en figuurlik op haar.
Wie en wat is Suené Meyburgh vandag? ‘n Sprankelende, baie suksesvolle beroepsvrou, ‘n prokureur in eie reg, met haar eie, baie suksesvolle praktyk. Sy het ‘n hart en ‘n passie vir mense. Ironies genoeg, dames en here, het sy, tydens haar eerste jaar op universiteit, toe sy met familiereg kennis gemaak het, besluit dat sy dit nooit in haar lewe sal gebruik nie, juis as gevolg van haar hartseer familiegeskiedenis. Ons weet egter almal dat die Here ook ‘n sin vir humor het. Hy het haar ook nie verniet die stofpad laat stap nie, want Hy het geweet dat dit sal wees waar haar roeping lê: FAMILIEREG, ten spyte van die feit dat sy ‘n wrok teen hierdie term gehad het. Dit is dan vandag hier waar sy haar hart en passie vir mense, spesifiek kinders, in haar spesialisgebied, uitleef. Sy is geëerd om dit te kan doen, want sy is goed daarin.
Haar eie praktyk, Suené Meyburgh Ingelyf, of SMI in kort, se organigram pryk met haar foto bo-aan, as enigste direkteur van die firma, met nie minder nie as 13 ander werknemers, wat almal aan haar rapporteer.
Haar beskeie persoonlikheid strook met haar baie nederige CV. Haar motto in die lewe is: Wanneer die lewe jou gooi, staan op, stof jou af en gaan aan.
Suené, mag die res van jou lewenspad geteer wees, sonder enige slaggate of stofpaai. Baie dankie dat jy jou weg oopgesien het om op ons akademiese toekenningsaand saam met ons te kom kuier. Ons waardeer dit opreg.
Die leerders het uitstekend presteer. Hiermee ‘n verkorte lys van die top akademiese presteerders:
Beste vordering in elke graad:
Gr. 8: Hané Botha
Gr. 9: Zon-isha van Wyk
Gr. 10: Nico Ngqulunga
Gr. 11: Zach du Toit
Gr. 12: Alex Brink
Top leerder per graad:
Gr. 8: Zanné Bruckner
Gr. 9: Annelien Vlok
Gr. 10 Wijtske Fourie
Gr. 11 Leonie Joubert
Gr. 12 (3) Alicia Erasmus; (2) Rudi van Rooyen; (1) Madri Strauss
Erekleure vir akademie:
Gr 9: Annelien Vlok
Gr 10: Michal Richter, Mia Pienaar, Mia Bosman, Wijtske Fourie
Gr 11: Chiné Beeslaar, Cherize Combrinck, Leonie Joubert
Gr 12: Alicia Erasmus, Rudi van Rooyen, Madri Strauss
Hoërskool Pionier ook uitstekend op sportgebied en die o.15-krieketspan het soos gewoonlik nie teleurgestel nie.
Op Saterdag, 19 Oktober 2024, het Pionier se o.15 krieketspan teen Hoërskool Dundee se o.15-krieketspan in die NKZN-finaal gespeel.
Pionier het eerste op hulle tuisveld gekolf. Hulle behaal 165 lopies vir die verlies van agt paaltjies in 30 beurte.
Pionier se beste kolwers:
Devin Wessels: 44 lopies.
Nash Olivier: 40 lopies.
Rowan Mac Donald: 34 lopies.
Dundee het tweede gekolf en is tot 132 vir die verlies van 10 paaltjies in 26 beurte beperk.
Pionier se beste boulers:
FC Chaimberlain: vier paaltjies vir 24 lopies.
Tinus Lindeque: twee paaltjies vir sewe lopies.
Nash Olivier: twee paaltjies vir 17 lopies.
Pionier het die wedstryd met drie paaltjies gewen.
Baie geluk aan hierdie span van Pionier wat die seisoen onoorwonne as die wenners van die NKZN-o.15-liga gekroon is.
ALSO READ: Pioniers is dankbaar en geseënd
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



