OPEDAG 2025
Op Woensdag, 20 Maart, het Hoërskool Pionier ‘n suksesvolle opedag aangebied.
Die weer was perfek – sonnig en aangenaam – wat tot ’n gesellige atmosfeer bygedra het. Die nuwe Pioniers en hul ouers het die dag terdeë geniet. Hulle het die geleentheid gehad om die skool se geriewe te besigtig, met die onderwysers en huidige leerders te gesels en meer oor die verskeie akademiese- en buitemuurse aktiwiteite, wat die skool aanbied, te leer. Daar is ook verskeie aanbiedings en demonstrasies, wat die skool se trotse tradisies en prestasies uitgelig het, aangebied.
’n Spesiale dankie aan almal wat tot die sukses van die dag bygedra het – van die personeel en leerders tot die ouers en ondersteuners. Julle betrokkenheid het verseker dat die dag vir almal ’n onvergeetlike ervaring was.
Ons sien daarna uit om die nuwe Pioniers in die komende jaar deel van ons skoolfamilie te hê!
BLOEDBANK
Op Maandag, 17 Maart, het die senior Pioniers, oudergewoonte, letterlik moue opgerol en hul deel vir die gemeenskap gedoen. Dit was die eerste bloedskenkgeleentheid vir 2025, onder die bekwame leiding van die SANBS, wat al die pad van Newcastle af gereis het. Te midde van ‘n baie vol- en besige skooldag, laaste klastoetse van die kwartaal en periodes wat moes ruil, het die vyf Pioniers, wat as assistente opgelei is, die rooster baie bekwaam bestuur en kon nie minder nie as 95 lewens met die dag se eenhede bloed gered word. Baie dankie aan elke leerder en onderwyser wat ‘n bydrae gelewer het. Dit sluit aan by ons leuse: wees ‘n held, skenk bloed en red ‘n lewe!
OP DIE KALENDER
· 26 Maart: Mej. Pionier 2025.
· 28 Maart: Skoolvakansie.
ALSO READ: Pionier se Oratorsaand ‘n reuse sukses
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



