Pionier leerders skitter op veld en verhoog
Pionier vier 'n suksesvolle week met sportoorwinnings en 'n vrolike, stemvolle koorkamp.
KRIEKET
Op 2 Augustus het Pionier se o.15-krieketspan teen Hoërskool Dundee se o.15-krieketspan te Dundee meegeding. Pionier het eerste gekolf en 253 lopies vir die verlies van 6 paaltjies in die toegelate 30 beurte behaal. Baie geluk aan die volgende kolwers: Nash Olivier – 104 lopies en Leon le Roux – 49 lopies. Dundee het tweede gekolf en is almal vir 121 lopies na 21 beurte uitgeboul.
Beste boulers: Nash Olivier – 4 vir 11 lopies afgestaan, en Leon le Roux – 4 vir 18 lopies afgestaan.
Baie geluk aan Pionier se o.15-krieketspan wat die wedstryd met 4 paaltjies gewen het.
Op Saterdag, 2 Augustus, het die Eerste krieketspanne van Hoërskool Pionier en Dundee Hoër op Pionier se veld kragte gemeet. Pionier het besluit om eerste te kolf. Dundee het die wedstryd met 6 paaltjies gewen. Pionier se beste kolwer was Christian Rix met 16 lopies en die beste bouler was Joshua Buijs met 3 paaltjies.
SUPER 8-DOGTERSKRIEKETTOERNOOI
Op Saterdag, 2 Augustus, wys Pionier se krieketdogters hul staal toe hulle te Hoërskool Ferrum aan die Super 8-toernooi deelgeneem het. Die span het deurgaans uitstekende krieket, wat van merkwaardige vaardighede en puik spanwerk getuig, gespeel.
Eerste rondte: Pionier vs. Hoërskool Newcastle. Pionier het eerste gekolf en ’n indrukwekkende 82 lopies vir die verlies van slegs 1 paaltjie aangeteken. In hul beurt het NCH 58 lopies vir die verlies van 5 paaltjies aangeteken.
Uitblinkers in die veld: Leandri Grobler het as paaltjiewagter uitstekende veldwerk gedoen deur een paaltjie te stonk en een uit te vang. Kayla Mahne het ’n paaltjie direk met puik en akkurate veldwerk uitgegooi. Leané Janse van Rensburg is ná ’n indrukwekkende spelbeurt as bouler van die wedstryd aangewys.
Tweede rondte: Pionier vs. St Dominic’s. St Dominic’s het eerste gekolf en 16 lopies vir die verlies van 7 paaltjies aangeteken. Pionier het die teiken van 17 lopies gemaklik ingehaal. ’n Sterk, gesamentlike spanpoging deur Pionier se boulers het die oorwinning verseker.
Uitblinkers: Leané Janse van Rensburg en Mekayla Jordan het elkeen 2 paaltjies geneem. Xiah Labuschagne het 1 paaltjie gevang én 1 paaltjie geneem. Leandri Grobler het 1 paaltjie geneem.
Derde rondte: Pionier vs. Newcastle Invitational. Newcastle het eerste gekolf, waarna Pionier die teiken nagejaag het en die wedstryd met 4 paaltjies gewen het.
Dit was nog ’n puik spanpoging deur die Pionier-meisies!
Finaal: Pionier vs. Ferrum. Pionier het eerste gekolf en 36 lopies vir die verlies van 2 paaltjies aangeteken. Ferrum het daarna sonder die verlies van enige paaltjies die teiken ingehaal en met 10 paaltjies gewen.
Hoewel Pionier tweede in die toernooi geëindig het, het die span deur die dag uiters mededingende en passievolle krieket gespeel. Ons is trots op elke speler se bydrae en toewyding. Baie dankie aan al ons spelers vir hul harde werk, asook aan ons lojale ondersteuners vir hul volgehoue aanmoediging!
TENNIS
Op 2 Augustus het Pionier aan ’n tennistoernooi te St Dominic’s in Newcastle deelgeneem.
Die enkelswedstryde se uitslae is as volg:
Clarissa Viviers het 6–2 teen Hoërskool Ferrum gewen.
FC Chamberlain het 2 enkelswedstryde gespeel. Hy het 1–6 teen Hoërskool Ferrum verloor en 6–4 teen Hoërskool Ladysmith gewen.
Tian Steenberg het 2 enkelswedstryde gespeel. Hy het 1–6 teen Hoërskool Ferrum verloor en 6–5 teen Hoërskool Ladysmith gewen.
André Barnard het 2 enkelswedstryde gespeel. Hy het 4–6 teen Hoërskool Ferrum verloor en 6–2 teen Hoërskool Ladysmith gewen.
Jaco Annandale het 2 enkelswedstryde gespeel. Hy het 0–6 teen Hoërskool Ferrum en 1–6 teen Hoërskool Ladysmith verloor.
Heinz Saaijman het 2 enkelswedstryde gespeel. Hy het 4–6 teen Hoërskool Ferrum en 2–6 teen Hoërskool Ladysmith verloor.
Pionier het 3 dubbelsspanne ingeskryf:
FC Chamberlain en Clarissa Viviers het 2–6 teen Hoërskool Ferrum en 6–7 teen Hoërskool Ladysmith verloor.
Tian Steenberg en André Barnard het 2 dubbelswedstryde gespeel en 6–3 teen Hoërskool Ferrum en 6–2 teen Hoërskool Ladysmith gewen.
Jaco Annandale en Heinz Saaijman het 5–6 teen Hoërskool Ferrum en 0–3 in ’n verkorte wedstryd teen Hoërskool Ladysmith verloor.
Pionier se tennisspelers toon baie potensiaal en Pionier sien met groot verwagting uit na die res van die tennisseisoen.
RICHARDSBAAI 7’S
Op 2 Augustus het Pionier se o.17’s en o.15’s aan die Richardsbaai 7’s-toernooi deelgeneem.
Die o.17-span se uitslae is as volg:
Pionier wen Curro Salt Rock 28–0
Pionier wen Mandla Mthetwa 35–0
Pionier wen Pongola Akademie 19–12
Pionier wen Felixton College 24–10
Pionier wen Hoërskool Empangeni 21–14 in die finaal en word as die finaalwenners aangewys. Uitmuntend, manne!
Die o.15-span se uitslae is as volg:
Pionier wen Felixton College 31–0
Pionier wen Pongola Akademie 60–0
Pionier wen Mandla Mthetwa 48–0
Pionier verloor 12–17 teen Hoërskool Richardsbaai in die finaal en eindig algeheel tweede.
KOORKAMP
Op Vrydag, 1 Augustus, vertrek die koor, onder leiding van juf. Greeff, na Bloedrivierpoort vir ’n naweekkamp. Tussen al die ure van stemoefeninge en nuwe hoë toonhoogtes aandurf, was daar genoeg tyd vir lag, litte losmaak en lekker eet.
Eerstejaars moes ’n stok as koorbaba aanneem, tooi en troetel, terwyl ander ’n haas uit die hoed moes ruk vir Saterdagaand se konsert – alles onder die beheer van drilsersant Greeff en haar fluitjie.
Almal het die wegbreek terdeë geniet. Mag hulle nie net hoër note nie, maar ook hoër hoogtes bereik.
ALSO READ: Pionier skitter in sport en geloof tydens gedenkwaardige naweek
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



