Hoërskool Pionier-skuts blink uit by SA-kampioenskappe
Twaalf Pionier-skuts verteenwoordig KZN met trots by die nasionale skyfskietkampioenskappe.
Op 4 Oktober het twaalf van Pionier se skuts die voorreg gehad om deel te vorm van die KwaZulu-Natalse skyfskietspan, wat aan die Suid-Afrikaanse skyfskietkampioenskappe by die indrukwekkende Castle de Wildt in Nylstroom deelgeneem het. Skuts van regoor die land het aan hierdie prestige geleentheid deelgeneem en die mededinging was van hoogstaande gehalte. Ten spyte van die strawwe kompetisie het Pionier se skuts hul uitstekend van hul taak gekwyt en uitsonderlike resultate behaal.
Miané Kriel en Diané Barnard het as lede van die o.14-Veerklasspan elk ’n brons medalje verwerf. In die o.16- en o.21-Veerklasspanne het Frans Saaijman en Maarten Grobbelaar eweneens brons medaljes vir hul puik vertonings ontvang. Nash Olivier en Zandré Richards het as lede van die o.16-Sporterklasspan silwer medaljes ingepalm.
Frans Saaijman se prestasies was besonder noemenswaardig. Hy het goue medaljes in beide die 3P- en 10m-staanafdelings verower en is as algehele wenner van die 2x3P en 10m-staan aangewys. Met hierdie indrukwekkende vertoning verwerf hy sy Suid-Afrikaanse kleure (brons).
Vir Wileze Scheepers was hierdie kampioenskappe ’n gepaste en glorieryke afsluiting van haar skietloopbaan by Pionier. Sy is aangewys as kaptein van die KZN-span en het met groot styl presteer deur ’n goue medalje in die o.21-Sporterklas (staanposisie) te verower. Wileze het algeheel eerste in Suid-Afrika in die 10m-afdeling met ’n indrukwekkende telling van 364/400 geëindig. Sy het die titel as beste o.21-skut losgeslaan. Vir haar uitmuntende prestasies het sy haar SA-kleure (silwer) verwerf.
Pionier is uiters trots op ons vier SA-skuts: Wileze Scheepers, Niquita Steyn, Frans Saaijman en Nash Olivier, wat met hul toewyding, dissipline en harde werk die skool se naam met trots op nasionale vlak uitgedra het. Al vier die skuts kan met trots hul groen baadjies dra.
ALSO READ: Pionier bekroon as top skyfskietskool in KwaZulu-Natal
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



