Een van daardie dae…
Mense sê dis maklik om ‘n rubriekskrywer te wees, maar vandag wonder ek ernstig oor daardie storie. Ek sit en kyk by die deur uit hoe die nuwe Maandagoggend vinnig gestalte aanneem, en my deadline al hoe groter en groter word. Visioene van Ben Trovato en Dana Snyman flits soos goedkoop Boris Karlov schlock movie …
Mense sê dis maklik om ‘n rubriekskrywer te wees, maar vandag wonder ek ernstig oor daardie storie. Ek sit en kyk by die deur uit hoe die nuwe Maandagoggend vinnig gestalte aanneem, en my deadline al hoe groter en groter word. Visioene van Ben Trovato en Dana Snyman flits soos goedkoop Boris Karlov schlock movie trailers voor my verby, maar my gevrieste hande wil maar net nie iets optel nie.
Dalk moet ek maar iets oor die Bowman se army-eskapades skryf. Ek dink mense sal dalk nogal like om te weet hoe hy en ‘n paar van sy pêlle een aand….nee wag, miskien later.
Mieliepit, die Willsonstraattarentaal? Ek hoor die ou bokker was in een van ons voorste bataljonne destyds in die army gewees. Mieliepit? Praat van stille waters…
Nie dat sy waters só stil is nie, maar ja. Die Duitsers het ‘n gesegde wat min of meer so gaan…”Jeder Mann hat sein Vogel….as jy dit direk vertaal, beteken dit dat elke man sy eie,…eh…ja, miskien kan julle self daai afleiding maak, en voordat oom Willie weer sy pen opneem, al wat dit beteken is dat elke man sy eie dingetjies het wat hom besig hou.
Ek kliek weer op die woordteller, en sien dat ek nog ver van klaar is. Ek praat op die foon, met my gryse ou moeder daar ver in Namibië…Suidwes…vir die mense wat nie weet nie, en vra haar hoe ver sy met haar ‘kolommetjie’ is. Onske aarde…het ek maar destyds geweet watse woordeskatte die ou ding tot staat toe kan wees, dan het ons seker die verkiesing in ’81 gewen.
Ek treë half versigtig weg vannie foun af…ja, ma…toe kom park Aap voor die deur op sy nuwe Harley dat die klipperse sukke boë trek. Die boelterriër vervies haar daar waar sy by die hek staan en kyk, en begin aan die ysters te byt. Sy pluk deesdae suurlemoene van my boom af, en vreet dit, so skwêr tjoebing sal seker nie saak maak nie. Ek wou eers die maaifoedie Aap skel oor sy ongedurigheid, toe sien ek die nuwe bike óók raak.
So ‘n kanariegeel Harley Fatboy, met swart saalsakke met silwer beslag. “Aap, jou bliksem…” Woorde faal my. Dáár is nou iets om oor te skryf. Daai lang leersaal, met die blink Screaming Eagles wat so saggies staan en prut daar onder, die groot bande…kêrels!
Ek kyk daai geel ding so aan, wonder so op my eentjie of ek nie dalk die aap kan verwurg en daai bike vir my vat nie, miskien dalk die boelie op hom sit…sy sal dit tog like, maar ja…wat moet ‘n man doen. Meeste mense vandag lewe net omdat dit onwettig is om hulle dood te skiet. Dit help my egter nie, en Aap loop sit op daai geel monster, trek die Eagles se kele so ‘n slag oop, en daar gaan hy. Windgat moer. Ek kyk die bike agterna, en wonder hoe dit sal voel om so iets vir ‘n lewe te kan ry, maar ek kan aan niks dink om te sê nie.
Woorde skiet altyd te kort by perfeksie.



