Wonder maar net…
Mevrou – Ek wonder hoeveel van ons, wat ouers is (pappas en mammas) wat al ‘n kind in die sorg van ‘n dagsorg geplaas het of nog daar is, het al ooit nagedink watter rol asook opvoedingsrol die dagmoeder in die kindjie se lewe gespeel het of nog speel. Het ons al gedink hoeveel tyd …
Mevrou – Ek wonder hoeveel van ons, wat ouers is (pappas en mammas) wat al ‘n kind in die sorg van ‘n dagsorg geplaas het of nog daar is, het al ooit nagedink watter rol asook opvoedingsrol die dagmoeder in die kindjie se lewe gespeel het of nog speel.
Het ons al gedink hoeveel tyd hul aan my kind gespandeer het of nog spandeer tydens sy/haar verblyf in die dagsorg? Is ons bewus daarvan dat sy al soggens halfvyf moet opstaan vir die voorbereiding van kos vir die kinders sowel as haar gesin asook om alles reg te kry dat as die kindertjies opdaag alles reg is sodat hul net kan eet.
Sy is menige aande tot halfses in die aand nog besig om toesig te hou oor kinders waar spesiale reëlings mee getref is. Wanneer ons tee- of etensure aanbreek kan ons ons hare gaan doen of inkopies gaan doen (selfs na werksure). Het ons al daaraan gedink dat daar geen vaste tee- en/of etensure vir die dagorgpersoneel is nie.
As die groot kindertjies klaar geëet het, gaan hul slaap en dan word die jonger kindertjies versorg. Intussen is daar ook nog die babas wat aandag moet kry en versorg moet word. Doeke moet gereeld omgeruil word en al die kindertjies moet altyd onder toesig wees. Sommige ontwikkel dalk ‘n koors of maagaandoening en verg van spesiale aandag.
Daar is weinig van ons, wat, as ons af is om ‘n bepaalde rede by die werk, die kindjie by die dagsorg sal gaan haal om self meer tyd met haar of hom deur te bring. As ons self siek is, word die kindertjies nog na die dagsorg geneem. Ek verwys nie na ernstige siekte of operasies nie.
As dagmoeder siek is, moet sy nogtans na die kindertjies omsien want sy word mos daarvoor betaal. As daar gevra word om dalk een daggie vroeer te sluit as hul die naweek wil weggaan, sal daar gewoonlik een wees wat beswaar maak.
Hoeveel van ons is daar wat die woord ‘dankie’ of ‘jammer’ uiter as ons is later as gewoonlik die kinders by die dagsorg gaan oplaai (praat nie van ‘n paar minute nie).
Stel ons die dagmoeder in kennis as ons laat gaan wees sodat sy ook haar eie reëlings vir die aand kan aanpas? Hoeveel van ons stel die dagsorg in kennis as ons kinders nie die volgende dag by die dagsorg gaan wees nie? Besef ons hoeveel kos word dan verniet ekstra gemaak? (ons dink aan besparing) Sê ons darem so af en toe deur die jaar die woord ‘dankie’ aan hul vir alles wat hul vir die kindjie doen en dats ons tevrede is.
Dink ons darem daaraan dat die dagmoeder soms ook ‘n bietjie ekstra tyd saam met haar gesin wil deurbring na ure of is ons die mening toegedaan dat sy wel vergoed word vir haar dienste? Ek wil maar eers my dinge doen.
Dit is oor die algemeen so dat die kinders of babas wat aan die sorg van die dagpersoneel toevertrou word, elkeen ‘n spesiale plekkie in hul harte verower. Hul is die persone wat die meeste kere die eerste tandjies sien uitkom, hulle woordjies en klanke leer, speletjies leer speel, “gepottietrain” word ens.
Soms wag die ouers net dat die kindjie klaar “gepottietrain” word en word dan uit die dagsorg verwyder. Van die kindertjies bly in die sorg van die dagsorg vir ‘n hele aantal jare, soms tot net voor hul voorskool toe moet gaan of na gelang van omstandighede. Elke kindjie het ‘n plekkie diep in hulle hart en as hul om een of ander rede die dagsorg verlaat, is dit ‘n baie hartseer storie vir hulle.
Watter dank betoon ons aan die dagsorg personeel die dag as ons kennis gee dat die dienste van die dagsorg beëindig gaan word?
Gee ons darem ‘n bietjie erkenning vir alles wat hul deur die jare gedoen het, of is dit maar net ‘n kort ou briefie waarin ons sê dat ons van so en so ‘n tyd nie meer van hul dienste gebruik gaan maak nie. Soms neem ons die kindjie sonder kennisgewing of rede aan die einde van die maand of vroeêr net uit die dagsorg.
Is dit ons siening dat dit hul taak was om die kind op te voed want dit is waarvoor hul daar is?
Wonder maar net.



