
Meneer – Vooruitgang is onmoontlik sonder verandering, en die wat nie hulle idees kan verander nie, kan niks verander nie – George Bernard Shaw.
TLU SA het vandag die eerste stap geneem om ‘n nuwe, bevestigende aanslag tot vooruitgang in die landboubedryf te neem. Ons is trots daarop dat ons steeds die enigste landbouorganisasie is wat uit die boer, vir die boer optree om die boer se belange te dien. Ons erken ook allereers dat die Goddelike seën onontbeerlik is in alle ondernemings van individuele boere en die landboubedryf in die algemeen. Dié twee standpunte is ons grondbeginsels waaroor ons nooit sal onderhandel nie.
Met vooruitgang is daar egter dinge wat noodwendig verander en dit is ook so in die landboubedryf. Tegnologie het die landskap en manier van boer heeltemal verander. TLU SA is voortdurend besig om die nuutste metodes, hulpmiddels en vaardigheid oor landboutegnologie aan ons lede bekend te stel.
Met ‘n groeiende belangstelling van veral jonger boere en ondersteuners wat nie boere is nie, in TLU SA, is besluit om die handelsmerk en aanslag te vernuwe en ‘n groter digitale teenwoordigheid te skep deur middel van ‘n nuwe, gebruikersvriendelike webwerf en deelname op die grootste sosiale media platforms. Dit word vandag bekendgestel.
Dit is vir ons kommerwekkend dat die rolspelers in die landboubedryf die ANC-regering se koers, van privaat besitreg en ‘n vryemarkstelsel na sosialisme en kommunisme – wat baie duidelik in die Vryheidsmanifes, die Nasionale Demokratiese Revolusie en die Strategie- en Taktiek-dokument uitgespel word – nie goedkeur nie, maar tog gedwee daarmee saambeweeg TLU SA is eerlik oor hierdie aanslag en die invloed wat dit op landbou en boere het en sal hê.
TLU SA is van mening dat hierdie koers reggestel kan word, tot die voordeel van landbou, Suid-Afrika, en uiteindelik die hele bevolking, deur die volgende stappe:
- Behou ons geloof;
- Wees eerlik oor die rigting waarin die ANC beweeg en die resultate wat dit sal meebring;
- Staan vas by die beginsels wat Suid-Afrika kan red: privaat besitreg en die vryemarkstelsel;
- Kommunikeer suiwer rondom dit wat reg is deur nie bloot ANC-besluite na te praat nie;
- Waak daarteen om bloot dit wat verkeerd is, te probeer bestuur;
- Doen deeglike navorsing oor veiligheid, ekonomiese volhoubaarheid, eiendomsreg en watersake; en
- Werk positief aan dit wat die beleggersvertroue in Suid-Afrika volhoubaar kan herstel.
Louis Meintjes, President van TLU SA.

HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za. Add us on WhatsApp 071 277 1394.



