BlogsVryheid Herald

Wanneer jou brein ‘flenterdenk’ kry, smile en wave

’n Humoristiese kyk na gaslighting en hoekom dit ’n beter woord verdien.

Ek het nou al ’n ruk lank ’n ‘bee in my bonnet’ oor hierdie ding wat almal ‘gaslighting’ noem. Elke keer as iemand dit sê, sien ek ’n ou wat met ‘n Zippo lighter rondloop en goed aansteek. Ek weet dis nie wat dit beteken nie, maar my brein doen mos maar gewoonlik sy eie ding.

En honestly… hoekom het ons nie ’n goeie Afrikaanse woord hiervoor nie? Of dalk het ek dit nog nie raak gelees nie. Ons gebruik net die Engelse een en hoop almal vang die draad. Afrikaans het mos ’n talent om nuwe woorde uit die lug uit te pluk. Ons kan iets beter kry. Ek weier om te glo ons moet vir altyd vassteek by ‘gaslight’ soos wannabe Amerikaanse TikTok-gurus.

My eerste idee was ‘kopkluts’, want dis mos wat gebeur. Jy dink jy’s okay, en volgende oomblik wonder jy of jy rêrig die deur toegesluit het en of jy dit net gedroom het. Maar kopkluts klink ’n bietjie soos iets wat gebeur as jy te vinnig opstaan en die kamer spin.

Toe dink ek aan ‘verdwarreling’. Ja-nee, dis fancy, maar dit voel half soos ’n woord wat ’n dominee in ’n preek gebruik. Ek soek iets wat mens lekker in ’n sin kan gooi sonder dat dit klink soos ’n opstel.

My gedagtes hol en ek land op ‘flenterdenk’. Dít begin al naby kom. Want dis presies wat hulle doen… hulle flenter met jou gedagtes. Stukkie hier, stukkie daar, tot jy voel jou brein is soos ’n jean wat al tien keer gestryk en gerek is. Voor jy jou oë uitvee, glo jy amper dat jy die drama begin het. Spoiler alert… jy het nie!

Maar toe kom die volgende woord by my op… realiteitskuiwergat of sommer net, ‘hulle is besig om jou te skuiwergat’. Want honestly, dis presies wat dit is. Hulle skuif jou realiteit soos ’n tafel met ‘n skewe poot. Elke dag ’n millimeter. Klein genoeg dat jy voel jy verbeel jou, groot genoeg dat jy later jou eie selfvertroue begin google.

En skielik sit jy daar en sê jammer vir goed wat jy nie eens gedoen het nie. Want iemand het jou kop so geskuif dat jy nie eers jou eie reality herken nie. Nee wat, daai dae is verby.

Dis eintlik lekker om ’n bietjie met die taal te speel. As mens kan lag oor iets, vat dit sommer die steek uit die woord uit. En soms het ’n mens juis daai ligter oomblik nodig om te sien hoe stupid die situasie eintlik is.

Kom ons kom net gou by die kern van die woord. ‘Gaslighting’ of dan nou ‘skuiwergat’ is basically iemand wat jou laat twyfel aan alles… jou gedagtes, jou herinneringe, jou smaak in pizza… selfs jou keuse van sokkies kan bevraagteken word. Dis frustrerend, maar ek dink dis ook moeilik om nie te lag nie, want dis soms so absurd dat jy net moet sit en lag oor hoe common dit eintlik is.

Die punt bly dieselfde… jy mag nooit jou eie kop laat skuif en betwyfel deur iemand anders se issues nie. Hou jou eie waarheid, jou eie realiteit, jou eie pizza. En onthou: as iemand jou kop probeer skuif, flenter of kluts, gooi ’n gin, rol jou oë en lag dit weg.

Want soms is lag die beste wapen teen die mense wat jou laat twyfel aan jou eie sanity – it is what it is!

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button