BlogsVryheid Herald

Een verkeerde tree, drie sekondes en ’n paar krukke

Ek het al rotse en berge geklim, maar toe wen ’n sypaadjie.

Die dag wat jy jou ego voor mense wegsmyt, is die dag wat jy jou eie lewe moet herbesin. Of so iets.

’n Adrenaline junky wat val

Ek is ’n adrenaline junky. Ek klim op rotse, teen berge uit en op plekke waar ’n normale mens eerder sou heroorweeg. Alles vir daardie perfekte foto by ’n rally, enduro of drag race.

Ek het al op plekke gestaan waar ek myself moes oortuig dat ek beslis weet wat ek doen. Maar toe, op ’n doodgewone sypaadjie voor ’n skoolkonsert, besluit my lyf om my ’n les in nederigheid te leer.

Drie sekondes van totale chaos

Ek het die pad oorgesteek en was letterlik besig om op die sypaadjie te stap voordat ek die skool sou binnestap. En toe val ek. Nie elegant nie. Nie daardie oulike ‘oeps, ek het gestruikel’ tipe val nie. Nee. Ek val in paaiemente. Eers verloor ek my balans. Toe kom die middelste gedeelte waar jy desperaat probeer om jou balans te herwin. Arms swaai, voete probeer opvang, brein skree waarskynlik iets wat nie geskik is vir publikasie nie.

En toe, uiteindelik, die grand finale. Kop eerste op die sypaadjie. Die hele ding het waarskynlik drie sekondes geduur. Vir my het dit soos ’n volle episode van ’n TV-sepie gevoel. Ek lê toe daar op my rug en kyk op na die hemel. “Asseblief Liewe Jesus. Just this once. Laat die aarde oopgaan en my insluk.” Liewe Jesus het ‘n sin vir humor.. granted!

Wanneer almal jou sien val

Want natuurlik moes dit gebeur voor ’n hele skoolgemeenskap. En natuurlik moes ALMAL my sien. Mense begin vra of ek okay is. Ek was nie okay nie. My hande het gebrand, daar was bloed wat teen my arms afgeloop het en my broek het begin lyk soos die bewysstukke van ’n veldslag.

Maar jy ken mos daardie ding waar jy vir almal probeer wys jy’s fine? Ek het ook daardie een gedoen. Ek het gelag. Ek het geglimlag. Ek het waarskynlik selfs iets gesê in die lyn van “Ek is great,” terwyl ek eintlik net probeer het om nie te huil nie.

Die Good Samaritans en die skoolhoof

Toe kom die Good Samaritans. Mense wat jy nie eers ken nie, maar wat sommer net help. Hulle tel jou goed op, kyk of jy nog al jou ledemate het en probeer jou weer op jou voete kry. En toe, asof my ego nog nie genoeg skade gekry het nie, kom die skoolhoof van die skool waar die Feisty One is ook om te help. Great. Nou het ek nie net geval nie.

Ek het voor die hele gemeenskap geval én voor ‘n gerespekteerde persoon. Ek wou eintlik net verdwyn. Maar daar was nog ’n klein probleem. My kop het gepyn. My hande het gebrand. My knie het begin protesteer. En ek het stadig besef dat hierdie dalk nie een van daardie ‘staan op, lag dit af en gaan aan met jou dag’-oomblikke is nie.

Van sypaadjie na hospitaal

Ek is dus hospitaal toe. En daar sit ek uiteindelik met my hande verbind, my knie in ’n knee brace en ’n paar krukke wat skielik my nuwe beste vriende geword het. Basically, ’n volledige starter pack vir iemand wat gedink het sy is ’n tough cookie.

Want natuurlik. As ek dan gaan val, val ek behoorlik. Geen half measures nie. Ek het nie net my ego daar op die sypaadjie gelos nie. Ek het sommer my mobility ook vir ’n rukkie saam met hom gelos.

Die sypaadjie gee jou ’n reality check

Dalk is dit die ding van grootword. Jy dink jy het jou lewe uitgesorteer. Jy dink jy is tough. Jy dink jy kan enigiets hanteer. En dan kom ’n sypaadjie. Een verkeerde tree. Drie sekondes. En skielik leer jy weer dat jy nie so in control is soos wat jy gedink het nie. So, vir almal wat dink hulle moet altyd sterk wees, altyd reg lyk en altyd maak asof alles onderbeheer is: Moenie worry nie. Die sypaadjie wag vir jou. En hy gee nie om hoe fancy jou outfit is nie. It is what it is!

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button