Goue louere vir perderuiters
Op 10 Desember het die onder-18 spanne aan die Junior Interprovinsiale Toets (IPT) in Newcastle deelgeneem.
Die Majuba Tentpegging Klub het ‘n besonderse 2016 agter die rug.
Op 10 Desember het die onder-18 spanne aan die Junior Interprovinsiale Toets (IPT) in Newcastle deelgeneem.
Die algehele uitslae vir die KZN A Afdeling is as volg:
Eerste was Wes-Kaap met 484 punte, gevolg deur Vrystaat (468 punte) en KwaZulu-Natal (448 punte).
Die A Afdeling het uit vier lede bestaan: Tisha Willemse (Majuba – Kaptein), Tagan Maritz (Majuba), Benjamin Burton (Okusha/Durban) en Bianca Louw (Majuba).
“Die spannetjie verwerf ‘n goue medalje met hul eerste plek in Indiese Gelid Swaard,” het spanbeheer gesê.
Tisha en Joane Goosen (Noord-Wes) het ook die P.J. du Toit Wisseltrofee vir Beste Wapenhantering o-18 Meisies gedeel.
Die SA Junior Tentpegging Kampioenskappe het op Desember 12 en 13 te Newcastle plaasgevind.
Tisha se span, saamgestel uit Tagan Maritz, Xavier Compion (Mooiwater) en Zander Steyn (Vryheid Landbou) het ‘n brons medalje behaal vir hul derde plek in Seksie Lans.
Individueel het Tisha ‘n brons behaal vir haar derde plek in Ring-en-Pen, asook ‘n goue medalje vir haar eerste plek in Individuele Swaard.
Tisha het ook twee trofeë ingepalm.
Sy is as Sportvrou van die Jaar benoem en het die Petro Erasmus Wisseltrofee verower, en het die Wally Fletcher Wisseltrofee, vir dogters wat die meeste enkel items gedurende die kompetisie gewen het, met Mejeanne Combrink (Wes-Kaap) gedeel.
“Tisha word weereens verkies tot die Nasionale Dogters Proteaspan met ‘n punte totaal van 186, en is aangewys as Onderkaptein. Sy het ook ‘n besonderse voorreg gehad om tydens die IPT sowel as die SA’s die parade met perde en ruiters op die baan te lei.”
Die Wereldbeker wat in 2016 in Pakistan deur die Nasionale Junior Proteaspan verwerf is, was aan die ruiters wat nog Juniors is oorhandig.
Dit was die eerste amptelike oorhandiging in Suid Afrika.
Die gehoor het die drie ruiters, Tisha Willemse, Morne van Rooyen en Conrad Cronje as wereldkampioene erken met staande applous tydens die oorhandiging van die beker.
Ander prestasies van Majuba ruiters is as volg:
Tagan Maritz het ‘n brons medalje behaal in Seksie Lans en is die derde reserwe van die SA Junior Equestrian Tentpegging Association (SAJETA) President Dogterspan.
Danielle du Plessis is die derde lid van die SAJETA President Dogterspan.
Sy het ook ‘n brons medalje verdien in Behendigheid met Wapens, sowel as in individuele Indiese Gelid Lans.
Bianca Louw is die derde reserwe vir die o-14 SAJETA Dogter span.
Sy het ook ‘n silwer medalje in albei Half Seksie Lans en Individuele Lans behaal, sowel as ‘n derde plek in Half Seksie Swaard.
“Die Majuba-span het hul deeglik laat geld tydens die kompetisies. Tisha sal as junior ruiter vir die laaste keer aan ‘n internasionale toets deelneem. In 2017 begin sy in die Senior Afdeling te kompeteer.”



