‘n Gejaag na Wind….???
My ma het dit altyd gesê. ‘n Gejaag na Wind. Dis een van daai dae wat die tyd jou inhaal soos ‘n Ferrari agter ‘n Volkswagen op Kyalami op ‘n Grand Prix – oggend. Skielik is daar ‘n swetterjoel goed wat, soos in gister, reeds gedoen moes gewees het, en jy begin jaag. They call …
My ma het dit altyd gesê. ‘n Gejaag na Wind. Dis een van daai dae wat die tyd jou inhaal soos ‘n Ferrari agter ‘n Volkswagen op Kyalami op ‘n Grand Prix – oggend. Skielik is daar ‘n swetterjoel goed wat, soos in gister, reeds gedoen moes gewees het, en jy begin jaag. They call it the Race of Fools. You start off on a mad rush to get things done, and the faster you race, the less you get done.
Ek moet die gaste se bacon braai, hulle tamaties by Spar gaan koop, die kar se wiele pomp, iemand kry om petrol in die kar te gaan gooi, keer dat die boelie nie die huishulp opvreet nie, ‘n oog oor die sketterende eiers in die pan hou, bepaal wat ek vir die baas gaan sê hoekom my laaste artikel nie klaar is nie, brood en melk gaan koop, nadat ek dit vergeet het met die tamatie-trip, en ek moes dit alles reeds soos in gister gedoen het.
Bleddie hel. Ek spring ore in die nek hier weg, begin werk maak van al my errands, en jaag in die straat af winkel toe. By Spar hou ek stil langs die handicapped zone. Daar staan ‘n poliesvan in dié spot. Shame….gedag sommige van hulle is handicapped. Ek storm Spar binne….wat de hel moet ek nou weer híér koop? Ek probeer orde skep tussen al die gedagtes wat soos weghol-Oerlikon lugafweerkanonne in die Nuwe! Verbeterde! Suid-Afrikaanse Weermag se hande magasyne vol los gedagtes deur die gange van my verbouereerde brein skiet.
Ek kry een gevang, en gaan koop terstond ‘n brood en ‘n bottel Coke. By die service station onthou ek van my papwiele toe ek verbyry, en moet deur die stupidste eenrigtingstraatjies in die ganse Natal deurploeg om weer by Jeff uit te kom. By die huis klim die drooggebakte eiers seker al uit die panne. Ek jaag terug met die brood en Coke, onthou van die melk toe ek by die huis inry, en spring vervaard deur my kantoor om my goed reg te kry. Hoe meer ek bymekaarvat, hoe minder goed het ek in my hande, en later kom ek agter dat ek nie ‘n tree vorder nie. Die hele proses is soos een van hierdie flappe langs die pad wat teen die wind in probeer vlieg. Jy flap een tree vorentoe, en waai twee terug.
Eindelik het jy geen tyd oor nie, jy beweeg teen twee keer die spoed van normaal, maar jy kry presies twee keer minder uitgerig as wat jy dit teen normale spoed sou doen. Jy gaan sit, haal effe asem, en begin dan weer. Jy kry uiteindelik die bleddie melk gekoop, bak weer eiers, sit die brood in die vrieskas en gaan ontspan by die tafel met die koerant….die koerant….dan onthou jy jy het nog nie jou storie geskryf nie, en ‘n skielike, onbeheerbare drang om die naaste persoon aan jou aan die nek te gryp en te….wag, later. Die definisie van stress begin met so iets van die aard.
Sela.



