Snotkop: ‘n rare musikale talent
Snotkop sal by die Vodacom Newcastle Winterfees optree.
Winterfees: Snotkop
Suid Afrika se gewilde, multi-platinum verkoper en SAMA wenner, Snotkop, is een van die land se populêrste kunstenaars wat derduisende mense se harte gesteel het met sy talent, musiek, good looks, passie en aansteeklike energie!
Met volgepakte sale en platinum-verkope, het Snotkop sy merk duidelik in die land se musiekbedryf gekerf.
Snotkop spog met nie minder nie as 12 toekennings, onder andere MK-, Huisgenoot Tempo-, Vonk- en Bokkie-toekennings.
In 2012 het sy baanbreker-album Ek laaik van jol weggestap met die gesogte SAMA-toekenning vir beste Sokkie-dansalbum.
Met groot treffers soos Parapapa, Oppas, Ek laaik van jol, en die hartroerende Song vir my dad word daar altyd luidkeels saamgesing en gedans by sy energieke optredes.
Al Snotkop se albums is tot dusver ‘n unieke lewensreis tot waar Francois Henning homself vandag bevind.
Hy het grootgeword in Randburg, Johannesburg en van kleins af het hy al gedroom van ‘n lewe op die verhoog met ‘n mikrofoon in die hand.
Francois het drama studeer aan die Tswane Universiteit na ‘n ontstuimige paar jaar op skool as die swartskaap en rebel met die droom om eendag ‘n groot ster te word.
Met harde werk, passie en geloof, het hy dit reggekry om vandag een van SA se grootste name in die musiekbedryf te wees.
Vanaf ‘n baie jong ouderdom het hy begin werk aan sy loopbaan en het liedjies geskryf en opnames gemaak van sy musiek wat hy gestuur het aan groot plate-maatskappye.
Sy eerste groot breek het egter gekom in 2002 toe hy sy eerste platekontrak losgeslaan het as SA se eerste wit kwaito-ster onder die verhoog naam Lekgoa.
Dit was onmiddellik ‘n weghol-sukses, en die volgende vyf jaar het hy spandeer tussen duisende gillende aanhangers vanaf Soweto tot in Botswana.
Lekgoa het ook ‘n baie suksesvolle toer voltooi in Frankryk en London met van die land se grootste name soos Soul Brothers, Johnny Clegg en Mahotella Queens.
CNN het onmiddelik belang gestel in die unieke kunstenaar met die onkeerbaare energie op die verhoog en het ‘n dokumentêr geskiet oor sy interresante lewe, styl en loopbaan wat regoor die wêreld uitgesaai was.
Francois was ook al te siene as akteur en sanger op programme soos Sewende laan, Generations, en Noot vir Noot om ‘n paar te noem.
Hy was ook die aanbieder van sy eie populêre program, Petrolkop op die musiek kanaal MK.
daarbenewens het hy die onvergeetlike rol vertolk van Riekie op die baie populêre RSG en Kyknet radio drama Stralejakkers.
In 2006 het Francois besluit dit was tyd om in Afrikaans, sy moedertaal, musiek te maak onder die verhoog naam Snotkop, en dit ook, was gou ‘n massiewe sukses.
As tiener was Francois baie doelgerig en vasbeslote om eendag ‘n popster te word en dit het hom soms as hardkoppig en as ‘n rebel laat voorkom.
Sy Pa, Jan, het hom Snotkop gedoop, ‘n troetelnaam van jongs af wat Francois baie na aan die hart lê.
Vandag is Snotkop dié naam op elke Suid Afrikaner se lippe.
“Die liedjies op my albums verteenwoordig presies wie ek is; ek sing en rap oor verhoudings, geluk, hartseer, teleurstellings, liefde, my reis deur die lewe, paarties, my drome, menslike dinge wat ek as Afrikaner ondervind het en wat my gemaak het wie ek is vandag”.
Die lirieke is eerlik en oud en jonk sal onmiddelik verstaan waaroor Snotkop praat.
“Ons almal is menslik, ervaar geluk en hartseer, ek is mal daaroor om te skryf oor gewone dinge wat die gewone ou ondervind, ons almal jaag nonsens aan, paartie en werk hard, ek lag oor sommige situasies waarin ons onself soms bevind, ek is wie ek is, leer deur my foute, en hê fun in die proses, ons vergeet soms om net eenvoudig te vier wie ons is”.
Francois maak sy merk deur om sy naam duidelik teen die muur te skryf en mense te inspireer om dieselfde te doen.
“Wees trots op wie jy is, jy is instaat tot groot dinge, daar is geen ander persoon in die wêreld met jou unieke talent en energie nie, gebruik dit, maak jou merk, vergeet van wat ander mense van jou dink of sê, staan op vir jouself en gaan haal wat joune is.”
Reg oor die land is dit al bekend dat Snotkop beheer neem van ‘n verhoog, die gehoor vinnig op hulle voete kry en word beskou as een van Suid Afrika se beste live kunstenaars!
Snotkop is ‘n rare talent wat terug staan vir niks, en met sy unieke persoonlikheid, aansteeklike musiek en groot hart is dit geen wonder dat elke sokkie, braai, fees en byeenkoms dreun met sy musiek, passie en positiewe energie nie!



