Local newsNews

Eertydse kampioen van die kryt se liefde vir sport bly

Al is sy dae in die kryt lank reeds verby is Crous op 69 steeds fiks en sien jy hom gereeld op sy fiets. Hy het al 'n hele paar 94.7 fietsrenne getrap en selfs die Comrades en ander padwedlope aangedurf.

Op sy dag was hy ‘n WBA (Wêreld Boks Assosiasie) kampioen. Die man wat Ossie Ocasio verslaan het, en wat die WBA Cruiserweight titel agter sy naam kon skryf. Maar Piet Crous wat die afgelope vyf jaar in Parys gevestig is, is beskeie oor sy roemryke dae in die kryt van 1977 tot 1987, waarvan die talle trofees, medaljes, koerantknipsels en foto’s in sy huis en
motorhuis vertel.

Hy was maar ‘n tjokkertjie wat skaars in die skool was, toe sy ouers hom aangemoedig het om met amateur boks te begin. Pa Larry was immers self ‘n liggaamsbouer en stoeier. Selfs sy ouma en oupa was van sy getroue ondersteuners langs die kryt.

“Amateur boks was daardie jare ‘n baie gewilde sport vir die jeug,” vertel Crous. Die sentrum waar hy geboks het was regoor hul huis in Brixton waar hy grootgeword het.

Een van sy onderwysers, Naas Botes, was ook sy afrigter, en is hy selfs een jaar Rhodesië toe om daar te gaan boks.

Op hoërskool het hy ook begin rugby speel, en was die rugbyveld en die boksery elke dag se ding, gesels hy.

Na skool begin hy sy professionele lig/ swaargewig boksloopbaan onder die afrigtershand van Pierre Fourie. Om fiks te bly het hy elke dag werk toe gehardloop.

Sy groot deurbraak was in Desember 1984 toe hy sy eerste wêreldtitel-geveg teen Ossie Ocasio van Puerto Rico by die Sun City Superbowl gewen het op die jong ouderdom van 29 jaar onder die afrigtershand van Willy Toweel wat ook sy grootste ondersteuner was.

Crous het die Wêreld Cruiserweight kampioentitel (‘n gewigsdivisie tussen ligswaar en swaargewig) suksesvol teen Randy Stephens verdedig na ‘n uitklophou in die derde rondte, maar moes hy in die daaropvolgende jaar die titel aan die Amerikaner, Dwight Muhammed Qawi in die elfde rondte van die geveg afstaan.

 

Hy het daarna vir ‘n tyd ophou boks, maar tog later teruggekeer na die kryt met Botes as afrigter.

Sy laaste geveg was teen Freddy Rafferty, en tree hy in 1987 uit.

Crous het op sy dag teen groot name baklei waaronder ook die alombekende Gerrie Coetzee. “Oral waar ons gekom het, het mense hom geken,” vertel sy dogter,
Abigail, trots. Manne soos Jimmy Abbott, Brian Mitchell en Kallie Knoetze was goed aan hom bekend.

 

Al is sy dae in die kryt lank reeds verby is Crous op 69 steeds fiks en sien jy hom gereeld op sy fiets. Hy het al ‘n hele paar 94.7 fietsrenne getrap en selfs die Comrades en ander padwedlope aangedurf.

Mense het dalk al vergeet, maar die beskeie man met die lang, lenige lyf is die kampioen na wie sy kinders met trots opkyk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button