Drie ton teer, 100 hande maak ‘n verskil
AfriForum Parys sal ook weer in Februarie 'n aksie loods om nog slaggate in Parys se strate te herstel.
Honderd hande en drie ton teer het die naweek ‘n verskil in Parys se strate gemaak toe padmerke en randstene geverf is, en gate toegestop is in van die dorp se strate.
Die inisiatief is aangepak deur 50 AfriForum jeuglede van regoor die land wat die organisasie se jeugkongres by Udolpho bygewoon het, in samewerking met AfriForum Parys.
Een van die kongres-aktiwiteite was gemeenskapsdiens, en is daad by die woord gevoeg toe ‘n sloot onder meer in Tweedelaan naby die Amot Tehuis vir Bejaardes reggemaak en geteer is, en gate in Kortstraat in die omgewing van die NG Wes-gemeente en Joynstraat toegestop is.
Naas die padmerke by stoptekens en randstene wat oorgeverf is, is daar ook gehelp om vullis in die dorp op te tel, en inligtingspamflette te versprei.
“Die kinders het dit so geniet. As ons nog tyd gehad het sou ons meer kon vermag. Hulle is pragtige jongmense wat ‘n verskil wil maak in hul dorpe.”
“Die gevoel is dat ons dit ‘n jaarlikse instelling sal maak, maar ‘n dag opsy sal sit daarvoor,” sê Schalk Burger, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak.

Burger sê verder die naweek se aksie was ‘n jeugprojek, en dat AfriForum Parys weer in Februarie ook ‘n aksie sal loods om nog slaggate in Parys se strate te herstel.
Hy sê ook die sloot naby Amot is gemaak deur munisipale werkers wat herstelwerk gedoen het, en dit nie weer toegemaak het nie.



