Deo Gloria sorg vir fees van Klassieke Kersmusiek
Die Kerskonsert is vir jare al baie gewild en kom mense van heinde en ver om dit by te woon.
Die Deo Gloria-koor bied weer vanjaar sy gewilde Kerskonsert aan by die NG Kerk Vredefort. Die konserte vind plaas op 21 November om 18:30 en 22 November om 12:00.
Die koor, onder leiding van Erna Rademan en Marli Krüger, bring sedert sy ontstaan in 1998 mense van oor die land byeen met ‘n gewilde program van gewyde musiek en Kersliedere. Die koor bestaan uit ongeveer 45 lede van die Noord-Vrystaat en Noordwes wat almal ‘n passie vir koorsang deel. Die sprankelende program beloof om vanjaar weer in almal se smaak te val, met gewilde Kersliedere en nuwe gunstelinge uit die klassieke en meer kontemporêre genres, vertel Erna en Marli.
Die koor tree vanjaar weer saam met die liriese sopraan Marguerite van Wyk van Potchefstroom op en word begelei deur ‘n instrumentale ensemble wat uit van die beste professionele instrumentaliste in Suid-Afrika saamgestel is. Die gasorrelis is die bekende en gewilde professor Theo van Wyk van Pretoria, wat die kerk se beroemde driemanuaalorrel in sy volle glorie sal laat skitter.
Met soveel uitmuntende kunstenaars byeen op een ‘verhoog’ is dit die moet-sien-produksie van die jaar!

Kaartjies kos R150 vir volwassenes en R80 vir kinders tot en met graad 7. Dit is beskikbaar by alle koorlede, asook by Droomvrou in Breëstraat. Kaartjies verkoop jaarliks vinnig uit, daarom is dit raadsaam om dit so gou moontlik aan te skaf.
Vir navrae, skakel Wynand Serfontein by 083 452 5526.



