Koepel-juweel in die proses om tot natuurreservaat verklaar te word
Die verklaring van grond tot beskermde gebied hou voordeel in vir grondeienaars.
La Roche in die hart van die Vredefort Koepel-wêrelderfenisgebied, is in die finale fase van die proses om tot natuurreservaat verklaar te word.
Vir grondeienaar Hanri de la Harpe was die motivering vir haar aansoek by die Noordwes-departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme (DEDECT) die beskerming van die biodiversiteit van hierdie ekologies sensitiewe gebied, waarvoor sy ‘n besondere passie het.
“Om vir die spesies wat in hierdie omgewing leef ‘n beskermde habitat te verseker, is vir my ‘n absolute verantwoordelikheid,” vertel Hanri. Hanri het haar ervaring van die aansoekproses met grondeienaars gedeel tydens die Vredefort Koepel Bewarea se jaarvergadering, wat verlede week by Kiepersol gehou is.
Die proses het haar byna twee jaar geneem om die punt te bereik waar die formele verklaring van die grond tot natuurreservaat sal volg, ná afhandeling van die openbare deelname proses.
Die proses om grond tot natuurreservaat te verklaar, begin met die voltooiing van ‘n aansoekvorm en die indiening van ondersteunende dokumente, wat geverifieer word voordat ‘n inspeksie van die grond gedoen word. Daarna onderteken die LUR die skriftelike ooreenkoms, waarna die voorneme om die grond tot natuurreservaat te verklaar, in die Staatskoerant gepubliseer word as deel van ‘n openbare deelname proses. Ná die formele verklaring tot natuurreservaat moet die grondeienaar binne 12 maande ‘n bestuursplan by die departement indien.
Hanri se aansoek is in Januarie 2025 ingedien, en die inspeksie van die grond is reeds in September 2025 gedoen. Daarna het dit egter byna 10 maande geduur voordat die LUR die skriftelike ooreenkoms kon onderteken weens interne prosesse wat eers afgehandel moes word. “Dié ooreenkoms sit die voorwaardes vir die verklaring uiteen,” verduidelik Hanri.
Op 13 Oktober is die voorneme om die grond tot natuurreservaat te verklaar, in die Staatskoerant gepubliseer. Dit bied ‘n tydperk van 60 dae waartydens beswaar teen die voorgenome verklaring aangeteken kan word. Ná die formele verklaring van die grond tot natuurreservaat moet ‘n bestuursowerheid aangestel word, wat binne 12 maande ‘n bestuursplan vir die grond by die LUR moet indien.
Volgens Hanri hou die verklaring van grond as natuurreservaat verskeie voordele vir grondeienaars in. Veral vir grondeienaars in die Vredefort Koepel, wat ná jare steeds nie ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing tot ‘n wêrelderfenisgebied verklaar is nie, lê die grootste voordeel waarskynlik daarin dat beskermde gebiede soos verklaarde natuurreservate teen mynboubedrywighede en grondeise beskerm word.
Finansieel hou dit belastingvoordele en kwytskelding of vermindering van munisipale heffings in. Grondeienaars kan ook staatmaak op regeringsondersteuning in die vorm van befondsing en advies, aangesien natuurreservate dieselfde regstatus as natuurreservate in staatsbesit het. Danksy die bestuursplan wat vir verklaarde natuurreservate vereis word, word biodiversiteit beskerm. Dit gee ook ‘n groot hupstoot aan ekotoerisme, het Hanri verduidelik.

Hanri het haar ervaring van die proses om La Roche tot natuurreservaat te verklaar, as positief opgesom. Sy het ook groot lof gehad vir die werk van die ekoloog Reinier Terblanche vir sy omvattende biodiversiteitsverslag oor die Vredefort Koepel en sy toewyding aan die studie. Dit was ‘n deurslaggewende faktor vir die aansoek vir La Roche om die eerste nuut verklaarde natuurreservaat in die Vredefort Koepel in dekades te word.

Foto: Verskaf

Volledige inligting oor die regulasies en die verklaring van beskermde gebiede ingevolge die Wet op Beskermde Gebiede, Wet 57 van 2003, is ook tydens die vergadering deur Vakele Masauku, vergesel van Magdeline Moroke, verskaf. Magdeline en Vakele is onderskeidelik biodiversiteits- en omgewingsbeamptes. Hulle werk onder Biodiversiteitsbestuur, ’n subdirektoraat van Omgewingsdienste, en is verantwoordelik vir die verklaring van grond as beskermde gebiede ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur:
Vakele het verduidelik dat die departement die koste van aansoeke dra, terwyl die omgewingsbestuursplan vir die grondeienaar se rekening is.
Vir die departement hou die verklaring van grond as beskermde gebiede die voordeel in dat dit bydra tot die regering se verantwoordelikheid tot biodiversiteitsbeskerming.

Omgewingsbeamptes van die Noordwes-departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme (DEDECT) is beskikbaar om grondeienaars met navrae en aansoeke te help en kan gekontak word per e-pos by morokem@nwpg.gov.za of skakel 083 218 1227.



