Vermiste persone: Moenie wag om te rapporteer nie
Gaan so gou moontlik na jou naaste polisiestasie.

Die polisie het opnuut weer die versekering gegee dat daar geen wagperiode is vir die aanmeld van ‘n vermiste persoon nie.
Polisiewoordvoerder, kapt. Loraine Earle sê dit is belangrik om so gou moontlik na jou naaste polisiekantoor te gaan met ‘n onlangse foto van die persoon.
‘n 17-Jarige seun is onder meer vroeër vandag as vermis aangegee by die Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein. Hy is danksy ‘n uitgebreide polisie-soektog, en met die hulp van die gemeenskap en private sekuriteitsmaatskappye ongedeerd in Fichardtpark, Bloemfontein gekry.
Op 29 Januarie is ‘n 15-jarige dogter ook as vermis by die Parkweg-polisiestasie aangemeld, nadat sy op 20 Desember die laaste keer gesien is. Sy is Sondag ongedeerd gevind.



