Boepensbroodjies by die duisende vir Bybels

"Ek het die diepste respek vir mense so oud soos my ouers wat heel dag agter die panne staan vir 'n saak groter as jy," het dr. Elrika van den Berg, van die Bybelgenootskap Sondag in haar preek by dié gemeente gesê

Wanneer die gasstowe brand en die jaffelpanne op ‘n ry in gelid staan, moet jy jou draf in die Oos-gemeente se kerksaal ken vir die jaarlikse jaffelbak-marathon, want met dié boepensbroodjies word ‘n groot bydrae gemaak om bybels steeds bekostigbaar in die handel beskikbaar te maak.

Vanjaar was die eindresultaat 7031 van die allerlekkerste boepensbroodjies waarvoor die bestanddele vooraf met ‘n kennersoog bepaal is – 930 brode, 480kg vleis, 80kg botter, 172kg groente en die kerk se geheime speserymengsel.

“Ek het die diepste respek vir mense so oud soos my ouers wat heel dag agter die panne staan vir ‘n saak groter as jy,” het dr. Elrika Senekal-van den Berg, van die Bybelgenootskap en self ook ‘n oud-Parysenaar, Sondag in haar preek by dié gemeente gesê toe sy genoem het dat dié gemeente onder die top tien donateurs tel en kon spog met ‘n rekordbedrag wat verlede jaar al met 6 000 jaffels vir die Bybelgenootskap oorbetaal is.

Sy het vertel dat die meeste Bybels in China gedruk word uit ‘n koste oorweging en die tegnologie wat daar beskikbaar is. Spesiale papier word gebruik vir die druk van Bybels en moet bestellings wat geplaas word in Amerikaanse dolaar betaal word – en daar begin die uitdaging. Dan moet dit nog per skip vervoerword.

Honderde snye brood moes gesmeer word vir die groot jaffelbak.

Die vervaardigingskoste vir ‘n Bybel beloop tans R200, maar maak projekte soos die Oos-gemeente se jaarlikse jaffelbak en pretdag dit moontlik vir die Bybelgenootskap om ‘n gewone misionêre Bybel teen slegs R169 te kan verkoop. “Ons donateurs staan in vir die verlies.

Sy het ook verduidelik dat die Bybelgenootskap eenhonderd persent van skenkings afhanklik is en dit hul misie maak om ‘n Bybel in elke taal, hand en hart te kan hê. Hoewel daar tans ‘n Bybelvertaling is in al 11 van die land se erkende tale, is die werk van die Bybelgenootskap lank nog nie voltooi nie en word tans gewerk aan Bybelvertalings in nog vier tale. wat deur mense in die land gepraat word.

Dr. Elrika Senekal-Van den Berg wat self verlede jaar gehelp bak het aan die jaffels in die Oos-gemeente se kerksaal.

Die realiteit is dat na raming rofweg geskat steeds 40 miljoen mense in Suid-Afrika is wat nie ‘n Bybel het nie.

Naas gedrukte Bybels word groot gewerk gedoen om die Bybel ook op aanlyn platforms beskikbaar te hê vir alle ouderdomme. So word ook tred gehou met tegnologie veral vir die jong generasie wat gemiddeld agt ure per dag op ‘n selfoon spandeer.
Interessant is dat die direkte 2020 Bybelvertaling ‘n verstommende R25 miljoen gekos het.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is die primêre organisasie wat vir meer as 200 jaar vir die vertaling, publikasie en verspreiding van die Bybel verantwoordelik is. Die organisasie is ook ‘n volle lid van die Wêreldbond van Bybelgenootsappe – ‘n wêreldwye genootskap van sowat 150 Bybelgenootskappe watin meer as 240 lande en gebiede werksaam is.

Jy kan ook tweedehandse Bybels vir die Bybelgenootskap skenk wat versprei word waar die behoefte is. Jy kan die Bybelgenootskap kontak by www.bybelgenootskap.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button