Wees bedag op padwerke by dié robot en in Breëstraat
Verkeer na en van Potchefstroom sal geraak word met herstelwerk wat Maandag by die kruising van Breë- en Van Collerstraat gedoen sal word.
Motoriste word daarop gewys dat herstelwerk aan die padoppervlak by die robot aan die kant van die Potchefstroom-ingang by die kruising van Van Coller- en Breëstraat, vanaf Maandag 12 Oktober gedoen sal word.
Volgens Moss Mokhohlane, senior instrukteur vir Safeti, sal die pad vir ongeveer drie dae gesluit wees by die kruising om voldoende tyd toe te laat vir die materiaal wat gebruik word vir die herstel van die padoppervlak (base repair), om droog te word voordat geteer word.
Wat kan motoriste verwag
- Die herstelwerk sal hoofsaaklik verkeer wat na en van Potchefstroom beweeg raak.
- Verkeer sal herlei word om regs in Boomstraat, en dan links in Noorderstraat te draai, om dan weer aan te sluit in Breëstraat,
- of links in Boomstraat en regs in Father Balinkstraat om aan te sluit in Breëstraat.
- Verkeer in Breëstraat sal steeds in beide rigting vloei.
Die herstelwerk vorm deel van die Ngwathe Munisipaliteit se Padherstel- en Onderhoudsprogram wat vroeër vanjaar bekendgestel is. Met die Operation Fix my Road-program word 60 mense oor ‘n 12 maande periode deur die diensverskaffer, Safeti (South African Foundation For Empowerment, Traininig & Innovation), opgelei om hulle met die nodige vaardighede toe te rus om slaggate te herstel.
Die span is ook verlede week gesien waar daar op verskeie punte in Breëstraat gewerk is met die oog op Saterdag se Parys Crater Street Mile wat in Breëstraat gehardloop word.
Van die groot verbeteringe wat gesien is, was die herstel van die beskadigde beton van die stormwaterkanaal in Breëstraat wat ‘n groot gevaar vir voetgangers ingehou het.


Gedeeltes waar reeds gewerk is, sluit in Waterstraat oorkant Auto Zone, Breëstraat by Container-park, Breëstraat oorkant Spar en oorkant die polisiestasie, die h/v Delver- en Steytlerstraat en h/v Tweedelaan en Uniestraat.






Mokhoklane het sy dank betuig teenoor die Ngwathe Munisipaliteit, Sandra Uys, Schalk Burger, Laurie Poolman en die Ngwathe verkeersdepartement vir bystand en ondersteuning wat gebied is.



