Dringende aandag vir rioolprobleem gevra
Klagtes oor die ondraaglike stank weens verstopte mangate wat oorloop, veral rondom die gebied by Endstraat, is sedert 16 Januarie vanjaar aangemeld.
Met minder as drie weke oor voordat die Fezile Dabi X-Country Running Youth Development League aan die begin van Maart in die Parys-vleiland aangebied word, is ‘n beroep op die munisipale bestuur van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gedoen om seker te maak dat daar nie blokkasies in die rioolnetwerk is wat kan bydra tot rioolstorting in die vleiland nie.
Talle atlete gaan aan die geleentheid deelneem.
Klagtes oor die ondraaglike stank weens verstopte mangate wat oorloop, veral rondom die gebied by Endstraat, is sedert 16 Januarie vanjaar aangemeld.
“Ngwathe se rioolspan het dieselfde dag nog dreine oopgemaak en die gebied waar die storting was ontsmet,” sê VF Plus raadslid Marinda Matthyssen-Engelbrecht. Hoewel die reuk toe beter was, het mense steeds gekla, en het Matthyssen-Engelbrecht deur die vleiland geloop om die oorsprong van die aanhoudende stank te probeer kry. Gevolglik het sy op 23 Januarie afgekom op rioolwater wat opgedam het weens ‘n verstopte mangat in die veld naby Brownstraat.

Die rioolspan het dieselfde dag die mangat oopgemaak en ontsmettingsmiddels by die besmette gebied gegooi, maar is die probleem steeds nie opgelos nie.
Hoewel die mangat sedert 23 Januarie nie meer oorloop nie, sou daar vandeesweek dringend vasgestel moes word of daar ‘n ondergrondse lekkasie is, en wat moontlik gedoen kan word om die probleem op te los.

Daar is egter dankbaarheid vir die munisipaliteit se samewerking en pogings wat reeds aangewend is om die probleem te probeer oplos.



