Klok lui vir oulaas vir 2026 se matrieks
Die eerste eindeksamenvraestel word Dinsdag geskryf.
Die lui van die klok was vandag simbolies van die einde van ‘n skoolloopbaan van 12 jaar vir matrieks van Hoërskool Parys.
Terwyl die graad eens vir 2027 net oorkant die pad by die laerskool verwelkom is, skryf hierdie matrieks Dinsdag hul eerste eindeksamen vraestel
Vanoggend het die graad eens van 2026 se opregte boodskappies oorgedra deur die laerskool se graad twee leerders elke matriekleerder se hart geraak.. Vir elke matrikulant was daar ook ‘n kleurvolle prentjie wat die graad eens spesiaal vir hulle geteken het.


Vir matrikulante lê daar nou weke van harde werk en baie moed voor wat hulle aan die dag sal moet lê, maar moed beteken nie dat jy nooit sal bang wees nie. Moed beteken om vorentoe te gaan al is jy bang. Moed beteken nie dat jy altyd seker is van jouself nie. Moed beteken dat jy altyd bereid is om die volgende tree te gee selfs wanneer jy onseker is oor wat voorlê.
So het Hoërskool Parys se beheerliggaamvoorsitter, Thinus Nortje gesê toe hy in sy boodskap vir die matrieks verwys het na die belofte in Joshua wat God aan die Israeliete gemaak het. Die belofte dat selfs wanneer die reis nie maklik is nie, jy die pad nie alleen stap nie.
“Vandag staan daar nog ‘n eksamen tussen julle en die einde van die matriekjaar. Gee jou absolute beste, leer hard, wees gedissiplineerd, maak die opofferings wat nodig is, maar onthou ook dat jou matriekeindresultate belangrik is, maar dit nie die finale definiëring is van wie jy is nie. ‘n Onderskeidiing maak nie outomaties van jou iemand met karakter nie. Teleurstellende uitslae maak nie van jou iemand sonder ‘n toekoms nie. Die wêreld gaan julle oordeel volgens baie dinge – jou prestasies, jou kwalifikasies, jou werk, inkomste, status, die voertuig wat jy ry, maar ek wil iets anders vir jou vandag sê. Jou karakter sal altyd meer tel as jou titel. Jou integriteit tel meer as jou bankbalans. Die manier hoe jy ander behandel sal meer sê as die kar wat jy ry of die huis waarin jy bly, ” het Nortje gesê.

“Moenie net daarna streef om iemand te wees wat suksesvol is nie. Streef daarna om iemand te wees wat ‘n verskil maak, want sukses gaan nie oor net oor wat jy vir jouself bereik nie, maar wat vir ander moontlik word omdat jy daar was.”
“Ek wil julle vandag uitdaag om groot te droom. Droom oor buitengewone dinge. As jou drome jou nie bang maak nie, is jou drome nie groot genoeg nie.”
“Jy hoef nie beroemd te word om betekenisvol te wees nie. Jy hoef nie eendag jou naam op ‘n gebou te hê om ‘n betekenisvolle lewe te leef nie. Soms is die grootste verskil wat jy kan maak, die verskil wat jy in die lewe van een persoon sal maak – ‘n vriend wat bemoediging nodig het. ‘n Vreemdeling wat jou vriendelikheid nodig het. Iemand wat nodig het dat jy in hom/haar glo wanneer niemand anders bereid sou wees om in hulle te glo nie. Soms sal jy nie eens weet watter verskil jy gemaak het nie.”
Een van die mooiste dinge in die lewe is dat die belangrikste dinge wat ons doen, nie altyd die dinge is waarvoor ons erkenning kry nie. Wees vriendelik, eerlik, werk hard, hou jou beloftes, as jy begin werk wees betyds, behandel ander met respek veral hulle wat dalk nooit iets vir jou sal beteken nie. Waar ook al die lewe jou neem, laat die mense en die plekke waar jy was beter agter as wat jy dit gekry het.”
“Julle verlaat binnekort die skool. Ons is ongelooflik trots op julle, maar moet nooit vergeet wat hierdie plek vir julle beteken het nie. Dink aan jou ouers, grootouers, familie en onderwysers – die mense wat groot opofferings gemaak het om julle te bring tot waar julle vandag is. Onderwysers wat jou aangemoedig het toe jy gedink het jy kon nie verder nie.”
“Sommige van julle moes laste met jul saamdra waarvan ander nie geweet het nie, maar jy het dit tot hier gemaak. Neem tyd vanoggend om jou ouers en onderwysers te bedank want dankbaarheid is nie ‘n teken van swakheid nie. Dit is ‘n teken dat jy verstaan dat niemand alleen sukses behaal nie. “
“Ek laat julle met die volgende gedatges. Moenie bang wees om foute te maak nie, want foute maak nie van jou ‘n mislukking nie. Moenie jou waardes prysgee nie, en onthou jy het ‘n doel in jou lewe. Dis belangrik dat jy selfs wanneer jy foute maak sal opstaan en weer probeer. Moet nooit dat vrees en twyfel jou toekoms bepaal nie.”
“Soos Joshua weet jy dalk nie vandag wat die toekoms vir jou inhou nie, maar gaan die toekoms tegemoet met geloof, moed, integriteit en gedetermineerd om ‘n verskil te maak,” het Nortje gesê.
Lindi Daniel, die skool se adjunkhoof, het in haar boodskap die matrieks beskryf as die hartklop en kultuur toonsetters van die hele skool.” Julle is die brug van waar die skool was en waarheen dit op pad is. Dankie vir elke matriek wat deel was van die skool – of jy die hardste geskree het by ‘n atletiekbyeenkoms, laat gebly het om op te ruim, of net gecope het met ‘n eksamen. Julle is die pilare wat die standaard daar gestel het. Julle wys vir die res van die skool hoe jul druk kon hanteer en steeds jul humor kon behou. Dankie dat julle ons lewens kleur gegee en opgehelder het, en die skool, sy energie en trots gegee het.”










