Johandri oor The Mommy Club: ‘Mense kon my hart sien’
"The Mommy Club gaan oor baie meer as net die glans en glorie wat jou dalk eerste mag opval. Dit gaan oor ma-wees, en om in elke situasie jouself te wees."
“Ons lewe in ‘n tyd waar sosiale media soveel druk op vroue plaas, en waar jy heeltyd met ander vroue vergelyk word. Ek is nie perfek nie, maar ek is op ‘n plek in my lewe waar ek by die punt gekom het om okay te wees met myself.”
In haar grootworddorp Parys gesels die 33-jarige Johandri Johnson oor haar deelname aan die Showmax-werklikheidsreeks, The Mommy Club: Van die hoofstad, en hoe dit gekom het dat sy in 2023 genader is om deel te neem. Toe al was sy ‘n bekende smaakmaker wat gereeld inhoud geskep het.
“Nadat ek die onderhoude en uitdunne geslaag het, het ek vir die Here gesê, ‘ek doen hierdie show sodat ander mense Sy lig deur my kan sien skyn.” vertel sy, en erken sy sukkel om vir haarself op te staan. Wanneer iemand te na gekom word, skroom Johandri egter nie om haar stem te laat hoor nie.
“Op skool dink jy altyd aan die mean girls, dié wat boelie. Ek het nooit gedink ek sal aan die kant van die ‘mean girls’ staan nie. Tog het die reeks haar nie net baie van haarself geleer nie, maar ook van mense, en hoe om mense te hanteer. “Mense oordeel so maklik op eerste indrukke,” sê sy.
“Maar as ek na die positiewe kommentaar op sosiale media platforms kyk, weet ek – ek het deelgeneem vir die regte redes – mense kon my hart sien,” vertel Johandri.
Vir haar is daar niks belangriker as om die son oor almal te sien skyn nie, gesels sy by ‘n oggendmark waar sy tyd saam met haar familie spandeer.
Sy gesels oor geestesgesondheid, en hoe belangrik dit is dat jy nie moet toelaat dat klein goedjies jou onderkry nie.
Dit is hierdie waarheid wat sy wil hê vroue moet besef – “Dit help nie jy is mooi van buite, maar jou kop sê dit nie vir jou nie. Vroue moet in geheel mooi voel oor hulself.”
Johandri werk as farmaseutiese verteenwoordiger vir Macleods Pharmaceuticals. As voltydse beroepsvrou wat baie ure op die pad is, en mamma van ‘n amperse tweejarige is dit nie aldag maklik om al die balle in die lug te hou nie. Juis daarom glo sy aan beplanning.
Sy verklap dat sy ‘n absolute perfeksionis is as dit kom by haar werk, as vrou en ma, maar moes nadat sy self ‘n ma geword het ook die waarde ontdek van innerlike vrede met jouself en jou menswees.
Buiten haar beroep het sy die onderneming UBYou Wellness wat fokus op ‘n gesonde liggaam en gees. Met jarelange ervaring as aanlyn oefenintruktrise kon sy haar kennis kombineer met haar passie om vroue te help om beter oor hulself te voel. Sy kry dit reg om haarself in ander se skoene te plaas en voel sterk daaroor dat mense sagter moet wees met mekaar.
“Toe ek ‘n ma geword het, het ek self moeg geraak. Daar is soveel aktiwiteite om by uit te kom dat jy nie altyd by oefen uitkom nie, maar ek is op ‘n punt wat ek weet dat wanneer ek nie vandag daarby uitkom nie, is môre nog ‘n dag. Mens moet aan die einde van die dag ook lewe,” sê sy met ‘n doelgerigtheid en energie wat uit haar straal. “Begin eerste by jou hart, jou ingesteldheid en wees trots op klein mylpale wat jy bereik,” is haar raad.
Haar groot droom – om ook in Parys ‘n Wellness Day te hou.

Op ‘n vraag oor of die reeks die deelnemers se ware persoonlikhede weerspieël, of net n verdraaiing is van wat gesê is, het Johandri geen twyfel nie. “Ek het net die hoogste agting vir regisseur Pascal Wakefield. Niemand word gesê om lelik te wees nie, hoe jy reageer op ‘n situasie is 100% wie jy is. Almal in die reeks is sakevroue, go getters, standvastige vroue.”
“The Mommy Club gaan oor baie meer as net die glans en glorie wat jou dalk eerste mag opval. Dit gaan oor ma-wees, en om in elke situasie jouself te wees. Dit gaan oor vriendskap en samesyn. En ten spyte van die intensheid wat daar soms is – is daar ook baie lag en vermaak.”
“Elkeen daar buite sal iets uit die reeks kan vat – of jy ‘n ma of sakevrou is – dit koester die uniekheid van elke vrou.”
Of Johandri tog later in die reeks vir haarself opstaan wil sy nie nou verklap nie, en sal kykers moet wag en sien of die vriendskap tussen Johandri, Louise en Tessa staande bly.



