Local newsNews

Dis stywe lyne en tjoppies op die kole vir Vaal se wilde bokspringe

Vandag woel dit hier van die wiele en voete vir die waterskouspel.

Die Vaalrivier se bokspringe het sedert Donderdag plek gemaak vir ‘n wilde galop wat alles wat voorkom platvee in ‘n magtige gedruis van water.

In my dorpie word daar water gekyk, want hier’s baie water.  Jy kry daardie vakansie vibe, soos jy soek vir ‘n staan en stopplek langs die water. Dis karre, voete, honde aan leibande, hengelaars met stywe lyne – en oral ‘n tjoppie op die kole op die oewer – want hier word water gekyk en gekuier. Doer ver sien jy van die asblikke swem wat ‘n paar dae tevore nog op die oewer gestaan het.

Restaurante sit volgepak. Mense geniet die buite-wees en die warm weer.

By die hangbrug sit mense op bankies, ander op kampstoele. Daar’s vandag weer baie voete op die hangbrug en glimlagte vir ‘n foto by die slotte of in die brug se fotoraam.

Dit maak my van voor af lief vir die dorp  waar mense self  inspring en mooi maak. Uit eie sak – sommer omdat hulle omgee. Dis dié dorp se mense wat die brug reggemaak en beveilig het toe ‘n kabel verlede jaar hier gebreek het. Die dorp se mense wat graffiti elke keer toeverf as vandale kom skryf op ons brug.

Die dorp se mense wat gister swaar sakke sand volgemaak en gepak het by die laagwaterbrug na Gholfeiland om strate en eiendom te beskerm. Besighede wat ingespring en gegee en help werk het.

Mense wat gee omdat hulle omgee.

Dit is Parys. Die dorpie wat sy waterkykers met ope arms verwelkom, Sy winkels soos krale ingeryg langs die hoofstraat wat jou nooi om jou tekkies aan te trek en hier te kom stap.

Die dorp is enig in sy soort. ‘n Stukkie Paris in die Vrystaatse Parys wat jou  laat terugkom vir die hartklop van sy mense. Wat jou  nadertrek soos die Vaal telkens op sy galop-loop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button