Aansienlike beloning vir inligting oor vermiste konstabels
Mense met inligting wat die polisie kan help met hul ondersoek, kan die ondersoekbeampte, kapt. Chaacha Manga skakel by 082 527 6099.

Daar is groot kommer by die polisie oor die verdwyning van drie van sy lede onder raaiselagtige omstandighede, en is ‘n beloning van R350 000 nou deur die polisie uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die opspoor van die drie polisiekonstabels wat sedert Woensdag vermis word.
Die polisie het reeds bevestig die moontlikheid van kaping en ontvoering word ondersoek nadat konstabels Cebekhulu Linda (24), Keamogetswe Buys (30) en Boipelo Senoge (20) verdwyn het terwyl hulle van Bloemfontein na Limpopo onderweg was waar hulle ontplooi is.
Hulle is Woensdag die laaste keer by die Engen-vulstasie naby die Grasmere-tolhek op die N1 gesien. Hulle het met n wit Volkswagen Polo met registrasienommer JCL 401 FS gery, en was van diens toe hulle verdwyn het.



Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder het bevestig die beamptes se selfone en voertuigopsporingstoestel is op die dag van hul verdwyning afgeskakel.
Die Nasionale Kommissaris van die SAPD, genl. Fannie Masemola, het vandag saam met die adjunk nasionale kommissaris vir misdaadondersoeke, luitenant-generaal Shadrack Sibiya, met die span vergader wat die ondersoek lei, en is met die families van die betrokke polisielede gepraat.
Die hoë vlak ondersoekspan bestaan uit speurders en misdaadintelligensie beamptes van beide Gauteng en die Vrystaat, en is die versekering weer gegee dat elke moontlike leidraad opgevolg word.
Mense wat inligting het wat die polisie kan help in die ondersoek, kan die ondersoekbeampte kapt. Chaacha Manga skakel by 082 527 6099. Geen inligting moet as waardeloos beskou word nie, en is ‘n beroep op mense gedoen om met inligting na vore te kom.



