Samesprekings om Koppies se suiweringsaanleg te skuif na vloedskade
Die dorp se watersuiweringsaanleg is aan die oewer van die Renosterrivier.
Koppies se watersuiweringsaanleg is weer operasioneel nadat dié aanleg vroeër oorstroom het toe die Koppies Dam oorgeloop het in die Renosterrivier wat reeds in vloed sy walle oorstroom het.
Die situasie is vererger deur die afgelope weke se swaar reën.
Die dorp se watersuiweringsaanleg is aan die oewer van die Renosterrivier. Volgens die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se munisipale bestuurder, dr. Futhuli Mothamaha, het hy Maandag die dorp besoek om die skade aan munisipale infrastruktuur te evalueeer, en word daar tans samesprekings met die Departement van Waterwese en Sanitasie gevoer oor die moontlikheid om die suiweringsaanleg te skuif weg van die rivieroewer.

Hy het ook bevestig dat daar verlede week elektriese komponente by die aanleg vervang moes word weens die vloedskade, en dat die waterkanale skoongemaak is om opdrifsels te verwyder.
Met die oorstroming van die aanleg moes proseskontroleerders inderhaas die aanleg ontruim, en was die dorp vir vier dae sonder water voordat munisipale werkers uiteindelik te voet die aanleg kon bereik om die omvang van die skade te bepaal.



