Polisie en gemeenskap vat hande teen misdaad
Die publiek kan 'n waardevolle bydrae lewer om die oë en die ore van die polisie te wees.
Die gemeenskap en die polisie het Vrydagaand weer hande gevat vir ‘n baie suksesvolle wit lig/blou patrollie wat in die dorp gehou is. Sowat 25 vrywilligers, sekuriteitsmaatskappye, GPF en SAPD-lede was deel van die patrollie.
Buurtwagpatrollies het in die verlede al keer op keer bewys baie suksesvol te wees met verhoogde sigbaarheid. Hoe meer oë en ore op die straat, hoe beter.
A.o Jan le Roux het voor die aanvang van die patrollie terugvoer gegee oor misdaadtendense wat tans in die dorp gesien word, en blyk huisbrake steeds ‘n probleem te wees.
Wit lig/blou lig patrollies word maandeliks in Parys gehou danksy die samewerking van die SAPD en die Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF).
Ondersteun die aksie en maak ‘n verskil in jou gemeenskap om misdaad vas te vat. Datums word voor elke patrollie in die Gazette en op sosiale media platforms en WhatsApp-groepe deurgegee.




