Local newsNews

Slaggate: So werk dit met eise en kan jy pro-aktief jou skade verminder

TEPA sien 'n toename in die persentasie motors wat by bandeondernemings aankom met slaggatverwante skade en het rim vervangings oor die afgelope paar jaar meer as verdubbel,

As jy onlangs ‘n rukslag gevoel het terwyl jy bestuur het of opgemerk het dat jou motor meer as gewoonlik trek, is die kans groot dat jy een van Suid-Afrika se berugte padgevare teëgekom het – die gevreesde slaggate.

Danksy swaar reën gedurende April en swak instandhouding van paaie, is slaggate op menige paaie vir motoriste ‘n nagmerrie en ‘n stryd om te koes om hulle mis te ry sonder om voor aankomende verkeer te beland. Veral nou met digte mis wat gedurende die wintermaande soggend vroeg gesien word, en saans, is van hierdie slaggate lewensgevaarlik –  veral ook op die R59 van Vaalpark tot by Viljoenskroon.

Hoewel daar vir meer as ‘n maand aan die R59 tussen die N1 en Parys gewerk is, is die slaggate hiere nou eens so erg en lewensgevaarlik.

Die foto’s is Sondag op die R59 tussen die N1-oorbrug en Parys geneem.

Ongelukkig is dit nie net jou bande wat die houe vat vir die haglike toestand van paaie nie. In ongeveer 80% van gevalle kry motoriste naas bandskade ook skade aan wielvellings (rims) wat buig, kraak of heeltemal beskadig word, sê Dylan Petzer, nasionale visevoorsitter van die Tyre, Equipment and Parts Association (TEPA).

En ons praat nie van geringe skade nie – wielvelling skade kan jou motor se wielsporing en vering beïnvloed. Dis wanneer dinge van irriterend na duur oorgaan,” sê Petzer. 

Petzer sê TEPA sien ‘n toename in die persentasie motors wat by bandeondernemings aankom met slaggatverwante skade. Rim vervangings het oor die afgelope paar jaar meer as verdubbel, sê hy en beaam ook bandeonderneming in Parys met wie daar gesels is, die feit. 

Skade wat ‘n Johannesburgse motoris onlangs op die R59 gehad het.

Goeie Nuus: Jy hoef nie altyd nuwe rims te koop nie

” Kwaliteit herstelwerk van ‘n betroubare spesialis kan jou beursie en jou rit red – as jy na die regte plek gaan,” sê Petzer. Motoriste moet hul pas- en monteersentrum vra of die hersteller SABS en  ISO 9001-geakkrediteer is.

Goue Wenke vir die slaggatseisoen

  • Wees maar versigtig vir poele water op die pad  – hulle verberg slaggate beter as ‘n towenaar wat hase wegsteek.

  • Moenie hard rem as jy n slaggat tref nie – dit maak die skade erger omdat dit die impak vererger.

  • Voel jy ‘n vreemde vibrasie in jou sitplek of stuurwiel? Dis jou motor wat om hulp smeek.

  • As  jy ‘n voorgevoel het dat iets verkeerd is, maak werk daarvan en gaan so gou moontlik na ‘n TEPA-geakkrediteerde pas- en monteersentrum sodat hulle kyk of daar fout is. Gaan ook self gereeld jou bande en spaarband na. Kyk veral na slytasie, snye of bulte op die band. 

  • Maak seker jy pomp jou bande gereeld.

  • Handhaaf ‘n veilige volgafstand: Dit gee jou meer tyd om slaggate te sien en te vermy.

  • Moenie jaag op paaie waar jy weet slaggate is nie. As motoriste voor jou stadiger ry – weet daar is fout en verminder onmiddellilk spoed. Dit is ‘n duidelike waarskuwing vir jou.
  • Slaggate is moeiliker sigbaar in slegte weer en swak beligte gebiede. Vermy waar moontlik paaie onder hierdie omstandighede waar jy kan.

Wat om te doen as jy ‘n slaggat tref

  • Trek af waar dit veilig is en inspekteer jou motor vir skade.

  • Neem foto’s van die slaggat en die skade aan jou voertuig.

  • Kry kwotasies vir herstelwerk.

Deur proaktief te wees en jou voertuig gereeld te inspekteer, kan jy die risiko van slaggatskade verminder en mag dit jou dalk net heelwat minder uit die sak jaag. 

Onthou ook – as die skade op ‘n nasionale pad (soos die N1 of N3) plaasgevind het, kan jy moontlik ‘n eis by SANRAL indien. Dit verg ‘n bietjie moeite, maar elke bietjie help, voeg Petzer by.

Hier is wat jy moet weet:

Jy kan eis indien:

  • Die slaggat op ‘n nasionale pad was wat onder SANRAL se jurisdiksie val.

  • As jy kan bewys dat die skade deur daardie spesifieke slaggat veroorsaak is. Rapporteer dan die voorval en dien ‘n eis in volgens hul proses.

Wanneer kan jy nie by Sanral ‘n eis indien nie:

  • Die pad  ‘n munisipale of provinsiale pad is (hierdie val onder plaaslike of provinsiale regering, nie SANRAL nie).

  • Jy het nie bewyse nie (bv. foto’s, herstelfakture, ligging besonderhede).

Hoe om van SANRAL te eis:

  1. Rapporteer die slaggat en voorval aan SANRAL via hul webwerf of kontaksentrum.

  2. Dien ‘n geskrewe eis in met die volgende besonderhede:

    • Datum, tyd en presiese ligging van die voorval.

    • Beskrywing van die skade.

    • Fotografiese bewyse (van die slaggat en skade).

    • Bewys van herstelkoste.

    • Voertuig- en bestuurderbesonderhede.

  3. Wag vir assessering — SANRAL mag die terrein en voertuig inspekteer voordat enige vergoeding goedgekeur word.

Let daarop dat SANRAL moontlik ‘n skadeverslag van ‘n professionele assessor, ‘n beëdigde verklaring wat die voorval beskryf, en ‘n verklaring wat bevestig dat jy nie ‘n eis by jou versekering ingedien het nie, kan vereis.

Vir meer inligting, besoek SANRAL se webwerf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button