Graandiewe verdwyn met soja-oes
Dertig ton soja wat Dinsdag in die oggendure op ‘n plaas in die Vredefort-distrik gesteel is, is ure later in Nigel by die weegbrug van die Afgri silo’s gekry, danksy uitstekende samewerking oor provinsiale grense. Wessie Wessels vertel dat hulle die afgelope weke besig is om te stroop. Maandag is 30 ton se soja gestroop, …

Dertig ton soja wat Dinsdag in die oggendure op ‘n plaas in die Vredefort-distrik gesteel is, is ure later in Nigel by die weegbrug van die Afgri silo’s gekry, danksy uitstekende samewerking oor provinsiale grense.
Wessie Wessels vertel dat hulle die afgelope weke besig is om te stroop. Maandag is 30 ton se soja gestroop, en die trekkers aan die einde van die dag netjies bymekaar getrek vir die volgende dag se werk. Groot was die verbasing toe hulle Dinsdagoggend by die lande kom en die trekkers oral rondstaan met die wa waarop die soja was, naby die pad getrek. Die graandiewe het die trekkers gebruik om die wa te skuif en is al die soja wat Wessels die vorige dag geoes het, met emmers oorgelaai op ‘n vragmotor.
Inligting is opgevolg wat die polisie se spesialis- ondersoekeenheid vir ge-organiseerde misdaad op die spoor van die graandiewe gesit het.
Al die soja is teruggevind en beslag gelê op die vragmotor waarop die soja gekry is. Die bestuurder van die vragmotor is deur die polisie in hegtenis geneem. Wessels sê die waarde van die gesteelde graan was tussen R300 000 en R400 000.

Hoewel boere die afgelope maand swaar getrek het met lande wat té nat was na swaar reën, sê Wessels sy oes was mooi, ten spyte van die geploeter in die modder om die afgelope weke te kon oes.




