Twee vas na vragmotors N3 versper
Die mans word aangekla van gemeenregtelike roof en inmenging op infrastruktuur.
Twee mans is vandag op die N3 in hegtenis geneem nadat hulle volgens ‘n voorlopige ondersoek deel was van ‘n groep mense wat ‘n aantal vragmotors op die N3 tot stilstand gebring het, en verkeer in beide rigtings blokkeer het.
Die meer as 15 vragmotors is onbewaak agtergelaat nadat die sleutels van van die buitelandse vragmotorbestuurders glo deur die verdagtes afgevat is, het polisiewoordvoerder a.o Mmako gesê.
Daar word beweer dat die groep die bestuurders daarvan beskuldig het dat hulle plaaslike werkgeleenthede wegneem. Vyf buitelandse bestuurders het ook beweer dat hul selfone tydens die voorval by hulle afgevat is.



Die mans wat in hegtenis geneem is, is onderskeidelik 52 en 68 jaar oud en sal op klagte van gemeenregtelike roof en inmenging op infrastruktuur in die landdroshof op Vrede verskyf.
Die pad is ná 16:00 vanmiddag weer vir verkeer oopgestel ná ’n gesamentlike operasie met ander wetstoepassers, privaat sekuriteit en padbestuurdienste.



