Studie bevind byna 3% van skoolpersoneel uitgewys vir kriminele aktiwiteit
Met die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling wat groter openbare toegang tot die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders (NRSO) voorstaan, het onlangse ontwikkelinge die nasionale gesprek oor keuringspraktyke in Suid-Afrikaanse skole verder aangevuur.

Tussen Maart 2024 en Februarie 2025 is 2,95% van skoolpersoneel wat deur TPN (’n toonaangewende verskaffer van agtergrondondersoeke vir skole), se stelsel gesif is, uitgewys vir moontlike onwettige aktiwiteite, is in ‘n onlangse studie bevind.. Alhoewel hierdie syfer ’n geringe afname toon van die 3,08% wat die vorige jaar aangeteken is, beteken dit steeds dat 1 uit elke 34 persone wat by skole werk, ’n kriminele rekord het. Dit sluit nie net opvoeders in nie, maar ook terreinwerkers, tydelike aanstellings, afrigters en ander wat met minderjariges in aanraking kom.
TPN se siftingsproses dek kriminele rekords, die Nasionale Kinderbeskermingsregister, en die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders NRSO, in ooreenstemming met die vereistes van die Kinderwet en die Wysigingswet op Seksuele Misdade en Verwante Aangeleenthede (SORMAA). Van dié wat uitgewys is:
-
1,22% het kriminele rekords spesifiek rakende mishandeling en seksuele misdade – steeds kommerwekkend, maar verbeter vanaf 2,63% in 2022.
-
43,9% van dié met kriminele rekords is skuldig bevind aan gewelddadige en ernstige misdade, insluitend aanranding (23,17%), dwelmhandel (12,2%), huisbraak (3,66%), en moord (2,44%).
-
Diefstal was die mees algemene misdaad en het 18,29% van alle skuldigbevindinge uitgemaak.
Hoewel geen skuldigbevindinge of hangende verhoë vir verkragting of kinderverwaarlosing tussen 2023 en 2025 aangemeld is nie, is meer as 1,06% van gesifte skoolpersoneel tans in afwagting van verhoor – ’n belangrike aanduiding dat voorafindienstellingkontroles verder as slegs skuldigbevindinge moet strek.
Aanklagte wag nog op hofbeslissing
TPN monitor ook aanduiders van “Verhore Hangende” (CAT – Case Awaiting Trial), en het vasgestel dat 1,06% van personeel wat tussen 2024–2025 gesif is, tans regstappe in die gesig staar. Hoewel hierdie individue nog nie skuldig bevind is nie, wek die aard van die aantygings kommer.
Die vyf mees algemene oortredings waarvoor verhoor nog wag, is:
-
Oortredings van die Padverkeerswet – 30,56%
-
Aanranding – 19,44%
-
Diefstal – 15%
-
Roekelose of nalatige bestuur – 5,56%
-
Opsetlike beskadiging van eiendom – 2,78%
Regs- en etiese verantwoordelikhede van werkgewers en opvoeders
Ten spyte van voortgesette vertragings in die volledige beskikbaarstelling van die NRSO as gevolg van vertroulikheidsbepalings in SORMAA, het die Departement hom verbind tot ’n gefaseerde bekendstelling van die register. Fase een sal skole en instansies wat met kinders werk prioritiseer, met fase twee wat toegang uitbrei na algemene werkgewers – alles binne streng regsraamwerke.
Intussen bly die wetlike verpligtinge van skole onveranderd. Skole, veral skoolhoofde en bestuurders, is verplig om alle personeel na te gaan vir insluiting op Deel B van die Nasionale Kinderbeskermingsregister en die NRSO. Versuim om daaraan te voldoen, kan tot kriminele of siviele aanspreeklikheid en ernstige reputasieskade lei.
Opvoeders wat by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SACE) registreer, moet ’n polisieklaringsertifikaat wat nie ouer as ses maande is nie, voorlê. Die SACE se Kode vir Professionele Etiek stel die gedragsstandaarde vir opvoeders en beskryf tugprosedures, insluitend hersiening deur ’n “geskik-om-te-onderrig”-komitee.
SORMAA plaas ook ’n wetlike verpligting op werknemers om vorige skuldigbevindinge, veral dié rakende seksuele oortredings, bekend te maak – ongeag wanneer of waar dit plaasgevind het. Versuim om dit bekend te maak, kan lei tot ’n boete of gevangenisstraf van tot sewe jaar.
“’n Werknemer (wat met kwesbare persone werk) wat skuldig bevind is aan ’n seksuele oortreding teen sodanige persoon, moet sonder versuim sodanige skuldigbevinding of bevinding aan sy of haar werkgewer bekend maak, ongeag of dit tydens diens plaasgevind het.” – SORMAA
Voorkoming begin by proaktiewe sifting
TPN se data wys dat verbeterde sifting reeds vrugte afwerp: die koers van skuldigbevindinge vir seksuele misdrywe het gedaal, wat aandui dat skole optree om hoërisiko-persone te verwyder. Tog beteken selfs ’n klein persentasie dat daar steeds dosyne, indien nie honderde nie, volwassenes met kommerwekkende agtergronde is wat naby kinders werk.
Terwyl die druk om volledige openbare toegang tot oortrederregisters toeneem, bly waaksaamheid en voldoening die doeltreffendste instrumente in skole se arsenaal. Die beskerming van kinders mag nooit gekompromitteer word nie.



