Beroerte: So kan kinders help
Dit is nodig dat kinders ook die lewensvaardigheid geleer word van wat om te doen in geval van nood sou iemand na aan hulle 'n beroerte kry.
Beroertes is een van die grootste oorsake van sterftes, en die derde grootste oorsaak van gestremdhede by mense. Wanneer iemand ‘n beroerte sou kry, tel elke minuut om hulp so gou moontlik te kry.
Ons bly in ‘n omgewing waar kinders die meeste van hul tyd saam met volwassenes spandeer.
Daarom is dit nodig dat kinders ook die lewensvaardigheid geleer word van wat om te doen in geval van nood sou iemand na aan hulle ‘n beroerte kry. So gesels Renathe van der Merwe, nasionale koördineerder vir Fast Heroes.
Fast Heroes is ‘n gratis program wat daarop gemik is om grondslagfase leerders by belangstellende skole te leer hoe om die tekens en simptome van ‘n beroerte te herken, en ook wat die noodnommer is om te skakel, sou iets gebeur. Kleuters en leerders van deelnemende skole volg die vyf weke program met ‘n uur per week, of soos die skool die program kan akkommodeer deur die onderwyser wat toegang gegee word tot die werkboek en prettige interaktiewe platforms.
Die program maak gebruik van ‘n hele animasiewêreld met Franc, Armando, Sophia, Timmy en Tanya. Franc, Armando en Sophia is afgetrede superhelde wat elkeen ‘n spesiale gawe het, maar na die beroerte verloor hulle die gawe.
Timmy en Tanya is die eintlike helde, want hulle weet wat met Franc, Armando en Sophia gebeur, en weet dat 112 die noodnommer is om te skakel.
Hoewel die program gemik is op grondslagfaseleerders tussen die ouderdomme van vyf en nege, is daar skole wat dit aanbied tot en met graad sewe.
Die program is boonop ‘n trots Suid-Afrikaanse inisiatief ontwikkel deur die University of Macedonia. Dit word ondersteun deur die Angels inisiatief.
Die program is in 2022 in Suid-Afrika geloods, maar word sedert 2021 wêreldwyd aangebied.

Bumble Tots Montesorri se kleuters het die afgelope vyf weke die program gevolg en baie gebaat by wat geleer is.
Skole en kleuterskole kan meer van die program lees op www.fastheroes.com, of die Facebook-blad https://www.facebook.com/FastHeroesSouthAfrica of YouTube kanaal https://www.youtube.com/@wearethefastheroes



