Local newsNews

Aandag word gegee aan lisensie-kwessie, sê munisipaliteit

Die stortingsterrein was vroeër 'n gruisgat wat inwoners oor jare as stortingsterrein begin gebruik het

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het Woensdag gesê dringende aandag word gegee aan die lisensiekwessie van sy stortingsterrein in Vredefort.
Volgens die munisipale bestuurder, dr Fethuli Mothamaha, is die munisipaliteit sedert verlede week in gesprek met die Departement van Ekonomiese, Kleinsake Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake (Destea).

Dit volg nadat navrae verlede week aan die lig gebring het dat die lisensie vir die stortingsterrein langs die S80, verval het. Die munisipaliteit se aansoek om uitbreiding van die stortingsterrein, is in 2017 geweier, en is ‘n nuwe aansoek van die munisipaliteit oënskynlik nie sedertdien deur die departement ontvang nie, is bevestig in ‘n skrywe van die departement aan die Koepel Boerevereniging-bestuur.

In die 2017 skrywe van die departement word die probleem van grondwaterbesoedeling onder meer uitgelig.

Die Ngwathe Munisipaliteit het aanvanklik by navraag van die Gazette verlede week bevestig dat hy lisensies vir al sy stortingsterreine het, met die uitsondering van Parys en Koppies waarvoor die munisipaliteit permitte het, maar het sedert die probleem met die lisensie in Vredefort aan die lig gekom het, begin opvolg met die departement oor sy appélaansoek, is dié week gesê. Daar is ook genoem dat Destea gevra word om ‘n fisiese assessering van die terrein te kom doen sodat analises van die grondwater gedoen kan word, en ‘n oplossing gevind kan word oor of geskuif moet word na ‘n ander plek op die perseel vir stortingsdoeleiendes, en of ‘n alternatiewe perseel gekry moet word.

Die munisipaliteit het ook gesê dat Destea tans besig is met sy ouditproses by stortingsterreine, en daarom voortgegaan word met werk by die stortingsterrein om gehoor te gee aan die veiligheidsvereistes van Destea, maar ook die ouditeur-generaal se verslag waarin gesê is dat die munisipaliteit sy stortingsterreine moet onderhou.

Volgens Mothamaha, is ‘n nuwe direkteur van gemeenskapsdienste aangestel wat op 1 Julie by die munisipaliteit begin, en nou met die departement sal saamwerk om die kwessie so spoedig moontlik op te los.

Hy het ook vroeër bevestig dat die kontrakteur wat teen ‘n koste van R1.6m aangestel is vir die Vredefort stortingsterrein, tans besig is om die terrein te omhein, skoon te maak, en ablusie- en sekuriteitsgeriewe aan te bring.

Mothamaha het genoem dat die kontrak tussen Julie en Oktober volooi moet wees.

Boere en grondeienaars wat daagliks van die S80 gebruik maak is ongelukkig oor die stortingsterrein langs dié pad wat vir jare ‘n seer oog is, en ‘n ernstige brandgevaar inhou, veral nou gedurende die brandseisoen.

Die morsige gesig wat jy sien by die ingang wat nou tgoegemaak is.

Die haglike toestand van die terrein wat inwoners van Vredefort al vir jare as stortingsterrein gebruik, het na groot skade in die verlede weens brande, boere genoodsaak om self die terrein teen groot koste uit eie sak skoon te maak, walle te stoot, te omhein, en selfs borde op te sit om mense te waarsku teen onwettige storting.

Die ingang van die stortingsterrein is toe ook met goedkeuring van die munisipaliteit geskuif van die S80 na die R59-kant van die terrein.

Die bod is nog destyds deur die Koepel Boerevereniging by die stortingsterrein aangebring toe die boerevereniging skoongemaak, walle gestoot en omhein het.
Die omheining wat nou opgesit is langs die S80

Volgens die Koepel Boerevereniging-bestuur is dit gedoen om die storting van vullis teenaan die S80 te keer.

“Dit het aansienlike verligting gebring, maar nie vir lank nie, omdat die munisipaliteit nie die stortingsterrein beheer het nie,” sê hulle. Die Koepel Boerevereniging-bestuur het intussen met munisipale verteenwoordigers oor die stortingsterrein vergader, en meen die geld wat nou by die stortingsterrein spandeer word, kon eerder by ‘n meer geskikte terrein aan die nywerheidsgebied-kant van die dorp spandeer word as stortingsterrein vir die dorp.

Die Boerevereniging het ook genoem dat die stortingsterrein vroeër ‘n gruisgat was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button