AfriForum Parys het die afgelope naweek weer gate in die dorp se strate toegestop waarvoor daar groot dankbaarheid was. Altesaam 2.25ton teer het gehelp om ses groot slaggate toe te maak op die h/v Father Balink- en Breëstraat, in Oranjestraat, Allenbystraat en Schilbachstraat. Daarbenewens is 60 kleiner gate ook herstel.
Met teer wat geskenk is deur AfriForum, kon slaggate in Grensstraat in die omgewing van die Rivershed-sentrum herstel word, met die hulp van mnr. Dolf Lategan en sy helper, Johannes, wat vir jare Lategan se regterhand was om die Saligna Parkie instand te hou.


Lategan sê hy het die taak op hom geneem om as inwoner met die hulp van AfriForum te help om slaggate in Grensstraat reg te maak, en sal voortgaan met die herstelwerk in die omgewing waar hy woon. “Ons kan nie toelaat dat ‘n mooi dorp soos Parys tot niet gaan oor slaggate nie,” sê hy.
Lategan sê ook hy is dankbaar vir mense wat waar hulle werk aan die slaggate, stilhou om dankie te sê, ‘n donasie of kos te gee vir die werker, of selfs te help met brandstof.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het self ook die afgelope weke begin om padmerke te verf, en van die slaggate in die dorp se hoofstraat en die ingang na die dorp van Sasolburg-kant te herstel.

Volgens die munisipale bestuurder, dr. Fethuli Mothamaha, word die herstelwerk gedoen in lyn met die munisipaliteit se verbintenis tot beter dienslewering aan die gemeenskap.



