Deurbraak in ondersoek na ontvoering van graad 11-leerder
'n Polisiesersant sal na verwagting vandeesweek in die hof verskyn in verband met die saak.
n 42-Jarige polisiesersant sal vandeesweek in Bloemfontein voor die hof verskyn in verband met die ontvoering van ‘n 19-jarige Bloemfonteinse leerder, Kamogelo Baukudi.
Kamogelo is Donderdag ontvoer deur mense wat hulle glo as polisiebeamptes voorgedoen het, en is daar steeds geen teken van hom nie.
Kamogelo is Donderdag om 11:55 in Vereeniging-rylaan in Ehrlichpark ontvoer nadat hy vroeër by die Marti du Plessis Skool in Fichartpark soos gewoonlik opgelaai is. Die klaer en Kamogelo, ‘n graad 11 leerder, het in ‘n Suzuki Ertiga gery toe hulle na bewering deur twee mans in ‘n wit Toyota Hilux dubbelkajuit bakkie, wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, voorgekeer is. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle glo die voertuig gebruik om dwelms af te lewer. Die verdagtes het Kamogelo in hul voertuig ingdwing, en die klaer aangesê om na die Parkweg polisiestasie toe te ry. Terwyl hulle gery het, het die bakkie buite sig van die klaer geraak, en is Kamogelo sedertdien soek.
Die polisie se provinsiale kommissaris in die Vrystaat, luitenant-generaal Baile Motswenyane, sê die ondersoek is nou in ‘n kritieke fase en het weer die polisie se onwrikbare toewyding om die volle waarheid agter die misdaad aan die lig te bring, bevestig.
Motswenyana het ook gesê die betrokkenheid van enige polisielid by misdaad sal nie geduld word nie.
Die polisie het vroeër vandag die deurbraak in die saak bevestig in ‘n verklaring waarin gesê is dat die polisiesersant aanvanklik vvir ondervraging ingeneem is, maar later in aanhouding geplaas is.
Enigeen met inligting wat die polisie kan help om Kamogelo te vind, of inligting oor die voorval het, is gevra om sers. Sabata Jafta Moseme te skakel by 082 526 2713, luitenant-kolonel Kelaotswe Lebodi by 082 527 6348, of luitenant-kolonel David Ramasoala by 082 527 7390. Mense kan ook inligting deurgee op die MySAPS-toepassing of skakel die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.



