Maande se agterstand met rybewyskaarte
Miljoene al spandeer aan masjien herstelwerk en oortyd.
Teen 15 Mei was daar reeds ‘n agterstand van sowat 733 000 rybewyskaarte wat nog gedruk moet word nadat die enigste masjien in die land wat dié kaarte kan druk, vroeër vanjaar van Februarie tot 8 Mei uit aksie was. Daar word beraam dat dit tot sewe maande kan vat om die agterstand in te haal.
Die minister van vervoer, Barbara Creecy, het bevestig dat die masjien sedert 2022 al verskeie kere met tussenposes buite werking was waarmee in totaal oor die drie jaar periode 129 werksdae verloor is wat rybewyskaarte nie gedruk kon word nie.
Die herstelwerk en onderhoud aan die masjien het sedert 2022 tot nou in totaal R12 miljoen gekos, en nog bykans R5m is in totaal sedert 2022 aan oortyd uitbetaal vir personeel uitbetaal om die agterstand met die druk van rybewyskaarte te probeer inhaal.
Volgens Creecy is die plan om ‘n nuwe masjien te koop. Die vervanging van die masjien sloer egter sedert 2009.



