Local newsNews

Bek en klouseerkrisis bedreig boerrderyvolhoubaarheid

Daar is versoek dat die staat dringend optree om boerderyvolhoubaarheid te beskerm, veral waar dit oor voedselproduksie en werksekerheid gaan

TLU SA en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het hul kommer uitgespreek oor die ekonomiese impak van die huidige bek-en-klouseer uitbrekings (BEK) op kommersiële produsente. Uitbrekings van die siekte word onder meer in KwaZulu Natal en dele van Gauteng gesien, met van die jongste gevalle wat by Karan Beef se aanleg in Heildelberg was.

Geen gevalle van Bek-en-klouseer is nog in die Vrystaat provinsie aangemeld nie, is bevestig.

Hoewel die TLU SA en die RPO die noodsaaklikheid van biosekuriteitsmaatreëls erken en ondersteun, dreig die langdurige beperkings op die beweging van vee om landboubedrywighede tot stilstand te bring.

Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, is produsente op grondvlak in ‘n benarde posisie: “Hulle kan nie hul vee na veilings, voerkrale of abattoirs neem nie, wat ‘n direkte impak het op kontantvloei vir noodsaaklike uitgawes soos voedsel, elektrisiteit en lone.” Hy beklemtoon dat hoewel daar begrip is vir die maatreëls, die produsente daardeur sonder enige markte gelaat word terwyl daar tot op datum nog geen alternatiewe in plek is nie.”Ons is besig om boere ekonomies te ruïneer,” voeg hy by.

Dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende bestuurder van die RPO, beaam dit en voeg by: “Ons moet onthou dat BEK `n staatsbeheerde siekte is, en industrie slegs voorstelle kan maak en hulp aanbied aan die regering. Aangesien BEK `n staatsbeheerde siekte is, moet die regering besef dat hulle verantwoordelikheid nie net by die bekamping van die siekte lê nie, maar ook by die besighede en individue wat deur die maatreëls geraak word.”Verder wys die TLU SA en RPO daarop dat die staat versuim om sy wetlik opgelegte verantwoordelikhede na te kom.

‘n Voorbeeld hiervan is die gebrek aan padblokkades om die beweging van vee in geteisterde gebiede te monitor. Hierdie versuim word weer voor die deur van landbou gelê, aangesien boere en organisasies nou self moet poog om met behulp van privaat kameras hierdie beweging dop te hou. Die oprigting en monitering van hierdie stelsels is sonder enige bydrae van die staat gedoen – tog word daar van die landbousektor verwag om dit te bestuur en verantwoordbaarheid te dra vir ‘n plig wat wetlik by die owerhede berus.Tydens die onlangse NAMPO Oesdag het Van Zyl, na konsultasie met Maré, `n gesprek gevoer met John Steenhuisen, minister van landbou, oor die ernstige gevolge van die BEK-beperkings.

Die organisasies het ‘n beroep gedoen op die regering om ‘n rampbestuursprogram te implementeer wat produsente in staat stel om hierdie uitdagende tyd te oorbrug en hul boerderybedrywighede voort te sit.

Die TLU SA en RPO doen daarom ‘n dringende beroep op die regering om ‘n rampbestuursprogram of noodfonds in plek te stel wat produsente kan help om hierdie periode te oorbrug. Sonder toegang tot inkomste kan produsente nie aan hul kontraktuele verpligtinge voldoen nie, en dit raak ook hul werkers direk.

Die feit dat boerderye in wese uit sirkulasie gehaal word sonder enige vorm van ondersteuning, is onhoudbaar.Daar moet verder dringend gepoog word om produsente in die siektebeheer-area marktoegang te gee. Industrie het `n voorstel aan die regering gemaak om lae risiko plase, wat die nodige biosekuriteit maatreëls in plek het, te identifiseer en te oudit om hierdie produsente marktoegang te gee, maar die proses is nog nie afgehandel aan die regering se kant nie. Verder moet abattoirs in die siektebeheer-area geklassifiseer word om BEK-diere te slag sodat produsente van hoërisiko en besmette plase ook marktoegang kan hê.

Die organisasies versoek dat die staat dringend optree om boerderyvolhoubaarheid te beskerm, veral waar dit oor voedselproduksie en werksekerheid gaan. “Die wêreld moet besef onder watter druk Suid-Afrikaanse boere tans verkeer. Sonder daadwerklike ingryping kan dié druk rampspoedige gevolge inhou vir die hele landbouwaardeketting,” is gesê.

John Steenhuisen, minister van Landbou het intussen aangekondig dat meer as 900 000 dosisse entstof teen die siekte bestel is

Wat is bek-en-klouseer:
Bek-en-klouseer word deur ‘n virus veroorsaak by diere met gesplete hoewe soos beeste, skape, varke en bokke. Tipiese simptome is lusteloosheid, sere in die bek en aan die pote en oormatige afskeiding van speeksel.
Mense kan nie bek-en-klouseer kry nie, maar kan dit versprei deur voertuie, klere, hande en voete as jy met besmette diere in aanraking was.

Entstowwe vir diere help om teenlliggaampies teen die siekte op te bou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button