Nie net ‘n herinnering, maar ‘n verantwoordelikheid
Meer as 34 000 vroue en kinders het in die konsentrasiekampe gesterf
“Om hier saam te staan is nie net ‘n daad van herinnering nie, maar van verantwoordelikheid. Hierdie dag herinner ons daaraan dat vryheid ‘n duur prys het, een wat ons nooit mag vergeet nie.” So het Jan-Danie Malan, FAK- kultuurnetwerkkoördineerder in die sentrale streek gesê toe hy die belangrikheid van onthou beklemtoon het op 16 Junie tydens die landwye herdenking van Konsentrasiekampdag.
By die Vryheidsmonument in Vereeniging het die dag begin met ‘n vlagseremonie gelei deur Die Vryheidsmonument Voortrekkers. Pastoor Pieter Kriel het die verrigtinge geopen met ‘n boodskap van hoop en geloof, waarna Gys Ströh as hoofspreker die geskiedenis van die konsentrasiekampe en hul impak op die Afrikanervolk uitgelig het.

Die kinders van Chalkboard Champs, ‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes, het die erns van die dag met hul teenwoordigheid beklemtoon. Die dag is afgesluit met ‘n volkspele-optrede van Vaalrivier Laer, en ‘n gemeenskapsbraai.
Die dag is moontlik gemaak deur die Vaaldriehoek Kultuurnetwerk, FAK Sentraal, GGSA Vaal, Vaalrivier Volkspelers, Fanie van Five Star wat die terrein versorg, die Vryheidsmonument Voortrekkers, Chalkboard Champs, sanger Juan-Dré Jacobs, en besoekers van heinde en ver wat met elke krans wat gelê is, en elke storie wat vertel is, hulde gebring het aan die meer as 34 000 wat gesterf het in die grootste ellende.



