Staande applous weerklink in die voorhuis
Die sangskool is ses jaar gelede begin en word huiskonserte die afgelope vyf jaar gehou.
Uitsonderlike musiektalent is gehoor by die kwartaallikse musiekkonsert van sang-studente van die Stéfan Louw-sangskool, wat weer gesorg het vir ‘n luisterryke Sondagmiddagvertoning in die voorhuis van bekende tenoor en sangonderwyser Stéfan Louw.



By die intieme huiskonsert met ‘n uitsonderlike atmosfeer, is Fleur Walt-Vermaak, Susan Venter, Lappies Labuschagne, drs. Walter Bell en Gerrit Gouws, Ken Evans, Marisa Louw en Stéfan Louw gehoor, met ‘n program wat iets vir elke smaak ingesluit het.


Vir die negejarige Fleur was dit haar debuutoptrede en het sy ook by die geleentheid saam met Louw gesing. Louw het melding gemaak van haar uitsonderlike talent en musikaliteit. Onder die genres wat gehoor is met meesterlike vertolking deur die studente, was van Franse Jazz tot modern-kontemporêr, modern-klassiek, Aria Antique, klassieke en Afrikaanse werke, asook bekende liedere uit musiekblyspele.






