Laerskool se geliefde kantoortannie sê tot siens
Vir 33 jaar het leerders, personeel en ouers die bekende gesig van Henriëtte Erasmus in die skoolkantoor van Primêre skool Parys gesien. Die skool waar sy self ook haar laerskoolloopbaan voltooi het.
In die skoolsaal van Primêre Skool Parys sing kinderstemme die skoollied. Dit was tannie Henriëtte se wens. Om net een keer voordat sy die dag die laaste keer by die skool sal wees, die skoollied te kan hoor. Meer as drie dekades was dit haar vriendelike glimlag wat elke kind, onderwyser en besoeker eerste sou sien wanneer jy die skoolkantoor instap.
By die glasvenster van die kantoor het jy dikwels die stapels kosblikkies, vergete sportklere en boeke gesien wat gereeld skool toe gebring is, want tannie Henriëte sou sorg dat dit by die regte plek kom.


Waar sy gevat het, het sy raak gevat – vir 33 jaar om presies te wees – by dieselfde skool waar sy ook haar eerste skooltreë gegee het. Nou, op haar 65ste verjaardag wat sy vandeesweek kon vier, het ‘n nuwe fase vir haar aangebreek. ‘n Tyd van rustig word en aftree in haar geboorte- en grootworddorp.
Toe sy vyf jaar oud was, vertel sy, het haar ouers vir ‘n paar jaar in Welkom gebly, maar in standerd 3 was sy terug in Parys. Sy het ook hier haar hoërskoolloopbaan voltooi, en na ‘n sekretariële kursus wat sy by die Tegniese Kollege in Kroonstad voltooi het, begin werk by Anton Bouwer Rekenmeesters.
Haar man, Jan, het sy ontmoet toe sy ouer broer nog by haar sussie gekuier het, en van hul standerd 8-jaar het die liefde begin blom, vertel sy. Jan en Henriëtte is in 1980 getroud.
In 1992 kry sy die pos by die laerskool – toe nog ‘n jong mamma wie se seuns, Wikus en Jannie, ook in die skool was.
Baie jare sou daarna verloop. Kinders, personeel en hoofde het gekom en gegaan. Die skoolnaam het verander. Tikmasjiene het plek gemaak vir rekenaars. Floppies en stiffies het geheuestokkies geword.
Personeelvergadering notules wat met die hand in ‘n dik boek geskryf was, word nou elektronies van rekord gehou.
Faksmasjiene het verdwyn en vraestelle wat eens op wasvelle in die kantoor getik was, is nou onderwysers se verantwoordelikheid.
Baie het oor jare verander, maar nie die glimlag en opregte omgee wat leerders en personeel van die laerskool sal onthou van Henriëtte Erasmus nie. In haar eie woorde: “Dit was ‘n ongelooflike voorreg om deel te wees van die lewens van soveel kinders, ouers, onderwysers en die breër gemeenskap. Elkeen wat my pad gekruis het in hierdie 33 jaar by die skool het diep spore in my hart getrap. Spore wat ek sal onthou en navolg. Al die vriendelike gesiggies, haastige voetstappies, kort geselsies, sal my altyd bybly,” het sy gesê.



Sy het verlede week gegroet met die simboliese lui van die klok.




